Dwelmverslaafdes net “meer en meer” op straat
Die probleem met dwelmverslaafdes word al hoe erger op Middelburg se strate en spuit verslaafdes hulself sommer openlik waar almal, waaronder ook kinders, hulle in die verbygaan kan sien.
’n Lid van een van die noodgroepe, het gesê dat sy gister by ’n besigheid verby gery het op die hoeke van Kogel- en Framestraat. Sy het opgemerk dat daar nou al vier mense by die geboue, wat baie naby aan HTS Middelburg geleë is, slaap.
“Toe ek daar verby ry, was die nuwe twee wat daar slaap, besig om hulself te spuit vir almal om te sien! By wie moet ons dit rapporteer om reaksie te kry? Hoe lank gaan dit wees voor die vier, ses of meer word!”
Mnr. Arthur Hill (Dorpsbevelvoerder, Boereligioen) het gesê dat hulle al ’n rukkie van die veiligheidskant af probeer om die verslaafdes weg te kry van die winkels af.
“Ons het al die hulp van die munisipale polisie, noodgroepe en die polisie ingeroep, maar hulle kan niks doen nie.”
Hy sê daar is op hierdie stadium nie ’n veilige hawe vir haweloses nie.
“Dit is ’n moeilike saak! Hulle veroorsaak verwoesting waar hulle slaap!”
•Daar is onlangs ’n groep gestig met die naam: “Stop Feeding Addiction”, waarby verskeie organisasies wat reeds hulp aan verslaafdes verleen, deel geword het.
Die boodskap wat hulle die hele tyd wil uitbring by die gemeenskap is: “Hou op geld gee vir verslaafdes op straathoeke! Solank hulle geld kry, sál hulle aanhou dwelms gebruik. As hy later sterf aan ’n oordosis, is dit indirek elke persoon wat vir hulle geld gegee het, se skuld!”
