News

Loskop hou hiasintpes dop

Veel minder hoeveelhede waterhiasinte het afgespoel na Loskopdam vanuit die Olifantsrivier vanjaar.

Mnr. Alma du Plessis, wat jarelank reeds ‘n kontrak met waterwese het om die probleem hier in toom te hou sê “die matte waterhiasinte het nie vanjaar soos ‘n gholfbaan oor die rivier gestrek nie”.

Ten spyte van ‘n jaar sonder mandaat van waterwese weens interne probleme met ‘n string forensiese oudits van alle departementele uitgawes, het inwoners langs die Olifantsrivier op die ou-Witbankpad self ingespring om die hiasint getalle te beheer.

Du Plessis en sy ma, Clarissa, het vier jaar gelede aangebied om leiding met die uitroei van hiasinte in die Olifants- en Klein Olifantsrivier te neem.

Hul maatskappy, King Louis Property Rental cc, waarmee daar die afgelope drie jaar ‘n kontrak met Working on Water was, het Dinsdag weer met waterwese ontmoet en dit lyk tans belowend dat ‘n nuwe kontrak vir 2022 gesluit sal word.

Du Plessis en ‘n span van 42 werkers het reeds tonne hiasinte uit die watersisteme verwyder, in die hoop dat die probleem nie Loskopdam s’n sal word nie.

Hoewel daar wel hiasinte tydens die afgelope vloede afgespoel het Limpopo toe, weens Witbank en Middelburg damsluise wat gereeld oopgemaak moes word, “was dit enkele plante aan die kante van die rivieroewers,” sê mnr. Du Plessis.

Hiasinte is een van die grootste indringer waterpeste in ons akwatiese sisteme. Elke blom bevat minstens 1000 sade, met tien blomme wat 10 000 sade kan skiet, wat ‘n dormante leeftyd van meer as 20 jaar het.

Naas die hiasint beheer is King Louis ook aan die stuur van talle herwinningsprojekte, wat vanjaar ook weer volstoom aan die gang gesit sal word.

Volgens die akwatiese wetenskaplike, André Hoffman, betrokke by Loskopdam, is daar nog nie ‘n groot aanwas van hiasinte in die dam opgemerk nie.

Daar sal Saterdag met bote deegliker ondersoek ingestel word na die aanwas, het mnr. Hoffman gesê.

Hy sê die publiek is gewoonlik vinnig om hiasinte aan te meld, maar dat daar tot dusver nog nie klagtes was nie.

Mnr. Hoffmann het gemeld dat die Mpumalanga Parke onlangs ‘n watervoël opname in Loskopdam gedoen het en sommer ook gekyk het vir hiasinte.

“Ons het so vyf plante opgemerk en verwyder,” het hy Woensdag bevestig.

Hy vermoed dat baie van die plante weens die watervlakke van riviere en damme met die rekord reënval die afgelope ruk, moontlik op oewers uitgespoel het.

“Loskopdam is ook baie vol en die watervlakke het selfs die watervoël opname bietjie gekniehalter,” sê mnr. Hoffmann.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button