HTS Middelburg gesluit weens Covid uitbraak onder leerlinge
Die Hoër Tegniese Skool is gesluit tot Dinsdag nadat hulle in samewerking met die Departement van Gesondheid besluit het om veiligheids protokol te volg rakende die Covid-19 virus.
Talle ouers het www.mobserver.co.za gebel en gesê dat hulle dankbaar is dat die skool vanoggend gesluit is.
“Daar is nie direk vir die kinders gesê dat dit is weens die virus nie, maar ons vermoed dit is maar daaroor. Daar is verskriklik baie kinders wat die virus het,” het ’n pa, wie se seun self ook die virus het, gesê.
•Mnr. Hoppie van Jaarsveld (hoof) is tans besig met ’n kursus en kon nie reageer op navrae nie.
’n Personeellid (wat anoniem wil bly) het egter bevestig dat die veiligheid van die kinders vir hulle hoë prioriteit is en dat besluit is om die skool te sluit, “vir isolasie en ’n afkoeltyd. Dit is ’n nasionale probleem en ons moet maar vir mekaar sê, die virus is hoogs aansteeklik.”
•By Hoërskool Middelburg is daar nie ’n defnitiewe styging in Covid gevalle nie, maar kry hulle tog hier en daar geïsoleerde gevalle.
•Mnr. Martin Fourie, hoof Hoërskool Kanonkop het bevestig dat hulle beslis ’n toename in Covid gevalle sedert die tweede week vanaf die skool begin het, opgemerk het.
Hy het gesê dat daar 12 personeellede vanoggend nie by die skool is nie. Net twee het egter die virus, die ander 10 moet isoleer omdat iemand in die gesin, soos ’n man/vrou of kind die virus onder lede het. Gelukkig was nie een van die kinders of personeellede tot nou toe gehospitaliseer nie.
•Me. Ray Eksteen (Steelcrest High School) sê hulle het geen gevalle in die skool nie. Sy sê dat drie van haar personeellede se kinders, wat aan HTS Middelburg is, die virus het en dat hulle self-isoleer.
•By Laerskool Middelburg sien hulle tog dat daar ’n definitiewe toename van Covid-19 onder leerlinge is.
“Dit is egter nie buitensporig nie en die twee personeellede wat dit gehad het, is ook alweer terug,” sê mnr. Gerrie van der Merwe (hoof).
•Mnr. Pieter Fouché (hoof, Laerskool Staatspresident C.R.Swart) meld dat hy ook ’n skielike toename in Covid-19 gevalle by die skool opgemerk het by veral die senior leerlinge (graad vyf tot sewe). Daar was egter nie personeel wat in die laaste tyd positief getoets het nie.
•Laerskool Kanonkop se mnr. Riaan Kruger (hoof) sê hy kan wel agterkom dat daar bietjie meer leerlinge die afgelope tyd nie by die skool is nie weens die virus. Hy glo daar is verskeie faktore wat daartoe aanleiding gee.
“Die meeste kinders was in ander provinsies met vakansie, daar is oral by al die skole weer sport- en ander aktiwiteite wat hervat word.”
Mnr. Kruger noem dat sy skool en al die ander skole al die voorgeskrewe veiligheidsmaatreëls volg, maar dat dit tog kan gebeur dat die virus vesprei, al word byeenkomste in die opelug aangebied. Daar is more ’n hoofdevergadering en mnr. Kruger sê die Covid-pandemie sal beslis weer bespreek word.
•Mnr. Werner du Preez (Laerskool Dennesig) sê daar is tans geen Covid positiewe gevalle by hulle nie.
•By sy skool is daar nie ’n buitensporige toename nie, sê mnr. Renier Loubcher van Middelburg Primary School.
“Ons het tans twee onderwysers wat die virus het en net ’n handjievol kinders.”
