News

Troeteldierwinkel oorstroom – Koppiestraat projek afgesny

Middelburg se strate het gister in riviere en damme verander.

Een vrou het laat weet dat sy 79mm uit haar reënmeter in Kanonkop gegooi het. In ander gedeeltes in Kanonkop is 65mm gemeet.

In Dennesig is ook 60mm gemeet en in die res van die dorp is tussen 40 en 55mm gemeet.

Op Hendrina, wat ons opvangsgebied is, het dit glad nie gereën nie, maar by die Middelburgdam is 39mm gemeet.

•By Amora Dierepark het die walle van die Merriespruit oorstroom, maar die reën het die park in ’n rivier verander.

“Die troeteldierwinkel, wat aan die ander kant van die park geleë is, het oorstroom. Dit is die eerste keer sedert ek in 2016 betrokke geraak het by die park, dat ek so iets sien,” het me. Marietjie Britz vanoggend gesê. Sy sê dat daar gelukkig geen diere verdrink het nie, aangesien daar oral palette is waarop hulle kan klim. Daar is personeel wat op die perseel bly en die oomblik toe hulle besef die water kan ’n probleem word by die skilpaaie se hokke, het hulle die skilpaaie na veiligheid geneem.

“Die eende is skoon uitspattig vanoggend met hul dammetjies wat lekker vol is en die koi-visse kom sommer effens uit die water uit om dankie te sê!”

Personeel is tans nog besig om alles weer op hulle plek te kry.

•Op ’n video wat ’n motoris gisteraand geneem het, kan ’n mens duidelik die vrou hoor swets as sy senuweeagtig is, omdat haar man deur die dam water ry, wat gevorm het op die hoek van Walter Sisulu- en Proteastraat.

Op die hoek van Walter Sisulu- en Proteastraat het dit gelyk soos ’n rivier met water wat vanaf die Dennesig dammetjies oorgespoel en in die pad beland het.

Die water het vanaf die Dennesig dammetjies gekom, waar die spruit sy walle oorstroom en oor die pad gestroom het.

•Me. Cindy Coetzee sê laggend dat sy gedink het haar huis in CM van der Heeverstraat (Gholfsig) gaan afspoel in die straat. Die baie reën het watervalle teen trappe af gemaak in haar tuin en het sy ook ’n video gestuur van die massas waterstrome.

Cindy Coetzee se trappies by haar huis in CM van der Heeverstraat het gelyk soos ’n waterval.

•Me. Olga Smith (bestuurder, Koppiestraatprojek) sê die Merriespruit, wat onderkant hulle verbyloop, het ook kant en wal oorstroom. Vanoggend was daar nog water op die brug waaroor ’n mens moet ry na hul ingang.

Inwoners by Koppiestraat het ook foto’s en videos van die spruit, wat in ’n rivier verander het, vir www.mobserver.co.za aangestuur.

Merriespruit het soos ’n siedende rivier gelyk onderkant Koppiestraat.

•In die res van die dorp het talle slaggate, wat onlangs opgevul is, weens die storm weer oopgespoel en motoriste word gemaan om versigtig te ry.

•Die Middelburgdam se sluis is gister oopgemaak en is tans steeds oop met ’n sterk inloop van 595mm. Die vlak staan tans op 93.51% en damopsigter David Nonyana sê hy gaan die sluis toemaak sodra die vlak op 93% staan.

Hy glo dit sal binne die volgende halfuur wees.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button