News

Groot-oog dief beloer duur fiets voor hy weer steel

’n Man wat al verskeie kere by huise regdeur die dorp ingebreek en aangekeer is, moes Donderdag vrygelaat word, omdat die mense wie se skootrekenaar hy gesteel het, nie ’n saak wou maak nie.

“Ons doen soveel moeite vir kliënte en die gemeenskap om diewe van die straat af te kry, maar as hulle die gesteelde items terugkry, wil hulle nie sake maak nie!

Die man met die een groot oog in die vangwa afgeneem nadat hy verlede jaar in Augustus in Aerorand vasgetrek is.

As die mense van Springbokstraat Donderdag ’n saak gemaak het, kon hy positief verbind word met ’n saak van twee weke gelede waar ’n fiets van R50 000 gesteel is!” het Shane van Rooyen (Operasionele Bestuurder, Mid Alarms) vanoggend gesê.

Hul reaksiebeamptes het die afgelope paar maande al ’n paar keer te doene gekry met die man, wat herken kan word omdat sy een oog kenmerkend baie groter is as die ander. In Augustus verlede jaar het hulle hom vasgetrek in Aerorand na diefstalle.

Buiten een groot oog, het hy ook tatoeërmerke op sy bors met die woorde: “out law”.

By ’n huis in Sekhukhunestraat is die huis se deur summier afgeskop en die diefwering oopforseer. ’n Selfoon is gesteel. In dieselfde tyd is ingebreek by ’n huis in Duiwelspiekstraat waar klere en tekkies gesteel is. Die verdagte is ook in ’n erf in Wolkebergstraat gesien, maar hy het oor ’n muur gespring en weg gehardloop.

Mid Alarms het hom vasgetrek en die selfoon wat gesteel is, is by hom gekry.

In Sekhukhunestraat het hy verlede jaar die huis se deur afgeskop en die veiliigheidshek oopforseer om ’n selfoon te steel. Die selfoon is by hom gekry.

Die dief is aan die polisie oorhandig. Twee weke gelede is daar ingebreek by mnr. Flippie Nieuwoudt in Magaliesbergstraat (Aerorand).

Mnr. Nieuwoudt sê die booswig het kort voor 08:00 die deur oopgeskop. Op CCTV videomateriaal kan ’n mens sien hoe die boosdoener, met ’n sak oor sy skouer, deur die huis sluip en soek vir waardevolle items.

Tydens die inbraak by mnr. Nieuwoudt het die dief sy eie sak gebring waarin hy van die gesteelde artikels gepak het.

Hy loop só naby die kameras verby dat ’n mens duidelik opmerk dat dit die man is met die kenmerkende een groot oog. Op ’n stadium kry hy mnr. Nieuwoudt se fiets in die huis en kan jy sien hoe hy die fiets bekyk of dit van waarde is.

Hy het weggekom met die KTM fiets (ter waarde van R50 000), ’n skootrekenaar en ’n JVL luidspreker. Die totale skade word op meer as R60 000 geraam.

Mnr. Nieuwoudt se KTM bergfiets wat gesteel is.

Verlede Donderdag is Mid Alarms gekontak nadat twee verdagtes verskeie kere saam in Kanonkop opgemerk is. Die een het ’n kantsnyer vroegoggend in Essenhoutstraat gesteel, maar met al die reaksiebeamptes agter hom aan, het hy die verskeie kere oor mure gespring en weggekom.

Die kantsnyer is teruggevind en aan die regmatige eienaar terugbesorg.

Die dief wat Donderdagoggend ’n kantsnyer gesteel het. Hy het die kantsnyer neergesmyt en weg gekom.

Sy makker, die groot-oog dief, het egter nie die hasepad gekies nie en het ’n venster gebreek by ’n huis in Springbokstraat, waar hy ’n skootrekenaar gesteel het.

Shane sê hulle kon op die CCTV videomateriaal ’n duidelike beskrywing van die inbreker kry en het Kanonkop gefynkam.

’n Rukkie later het hy die man opgemerk naby die hoeke van Lilian Ngoyi- en Cowen Ntulistraat, waar hy in ’n taxi geklim het. Shane het die taxi op ’n afstand gevolg tot by Uitbreiding 24, waar hy uitgeklim en Shane hom vasgetrek het.

“Hy het nie meer die skootrekenaar by hom gehad nie, maar hy het vir ons gaan wys aan wie hy hom by ’n besigheid in die middedorp verkwansel het.” Die reaksielede van Mid Alarms het die dief teruggeneem na die huis waar hy ingebreek het en hy het vir hulle gewys waar hy die venster gebreek het.

Die dief verlede week afgeneem nadat hy ’n venster in Springbokstraat gebreek en ’n skootrekenaar gesteel het.

Hulle was baie tevrede met die arrestasie, maar die volgende oomblik het die huiseienaar gesê dat hy nie ’n saak wil maak nie, want hy het dan sy skootrekenaar teruggekry. “Al die moeite verniet! Die dief moes losgelaat word!”

Hy glo hy praat namens alle reaksiebeampte in Middelburg wat hul tyd en mannekrag opoffer om misdadigers vas te trek, “net om hulle weer te laat gaan, omdat die mense nie sake wil maak nie.”

Hy weet dit is in baie gevalle minder ernstige misdaad waarvoor boewe gevang word, maar voel as hierdie diewe nie elke keer aangekla word nie, omdat mense nie sake wil maak nie, sal hulle nooit die binnekant van ’n tronk sien nie.

Wat elke reaksiebeampte bekommerd maak, is dat van dié misdadigers al hoe ‘makker’ word met hul misdrywe by huise en besighede en dit dan later kan lei tot ernstige gevolge soos moord of roof.

•Shane sê dat die man met die een groot oog nie oor die algemeen saam met ander diewe werk nie. Dit laat die vermoede bestaan dat dit net toevallig was dat hy die betrokke dag saam met die ander dief was.

 

 

 

 

Op een van die tonele waar hy ingebreek het, is ook ’n mes gekry.

 

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Check Also
Close
Back to top button