Omstrede kaptein Geldenhuys is nié terug in polisie
Oud-polisieman kaptein Awie Geldenhuys is nie heraangestel nie.
Www.mobserver.co.za het pas betroubaar verneem dat sy arbitrasiesaak voortduur.
Geldenhuys was die laaste meer as 20 jaar talle kere in die nuus, hetsy oor bewerings van ’n seksuele aard wat vroue gemaak het en die afgelope drie jaar ook oor Maryka Kleinhans wat op 27 Januarie 2019 in Kranspoort gesterf het.
Lees ook: Meisie sterf in Kranspoort – ondersoek na drie jaar afgehandel
Twee maande nadat Maryka “uit sy voertuig gespring of geval het” (soos daar gesê is na die voorval) het nog ’n vrou na vore gekom wat gesê het dat Geldenhuys haar aangerand het.

Sy het klagtes van aanranding met die opset om ernstig te beseer en klagtes onder die seksuele misdrywe wet teen kapt. Geldenhuys aanhangig gemaak.
Tarryn Mieklejohn (36), beter bekend as “Jazz” het kort na die voorval vir www.mobserver.co.za gesê dat kaptein Geldenhuys een oomblik nog vriendelik was “en die volgende oomblik in ’n monster verander en my met die vuis geslaan het.”
Lees ook: Berugte kaptein Awie Geldenhuys afgedank
Na die gebeure is kapt. Geldenhuys geskors en in September 2019 het die polisie se provinsiale kantoor bevestig dat hy afgedank is.
Die afdanking het gevolg bykans vier maande nadat hy geskors en ’n departementele verhoor gevolg het.
Nadat sy klagtes by die polisie aanhangig gemaak het, het die Onafhanklike Polisie Ondersoek Direktoraat (Opod)’n verklaring by haar geneem. Hulle het haar ook laat weet dat hy teenklagtes van diefstal teen haar aanhangig gemaak het.
Daarna het die arbitrasiesaak begin en is daar die afgelope paar weke verskeie kere in die media bespiegel dat Geldenhuys sy saak gewen en heraangestel is. Dit is egter onwaar.

•Dit is nie die eerste keer dat kapt. Geldenhuys in ’n departementele verhoor skuldig bevind word nie. Hy is in 2012 skuldig bevind aan wangedrag na twee sake waar een vrou beweer het dat hy haar betas en die ander een gesê het dat hy haar verkrag het.
Hy was op daardie stadium gestasioneer by KaNyamazane naby Nelspruit. Sy skuldigbevinding het gevolg na die beweerde voorvalle by sy huis in Nelspruit.
Tydens die arbitrasiesaak in 2014 is die getuienis en bande van die departementele saak aangevra, maar dit kon nie opgespoor word nie en is kapt. Geldenhuys weer heraangestel.
Lees ook: Berugte polisieman word weer ondersoek na meisie se klagtes
•Daar is verneem dat die saak in die strafregtelike hof ook nie kon voortgaan nie, omdat die klaers “nie opgespoor” kon word nie. Hulle het kort na die beweerde gebeure verhuis.
•Die twee vroue het in 2016 hul weergawe van die gebeure aan die Middelburg Observer vertel.
•Tydens Geldenhuys sy borgaansoek in hierdie saak het hy destyds gesê “dat daar ’n element van toestemming was.”
•Die Nelspruit vroue moes tydens die departementele verhoor weer getuig. Beide vroue sê hulle was destyds ontsenu, omdat kapt. Geldenhuys tydens die verhoor die hele tyd vir hulle gesit en lag het.
•Die mediakantoor van Opod het vroeg hierdie week bevestig dat die ondersoek rakende die Maryka Kleinhans saak afgehandel is en vroeg hierdie week aan die Departement van Openbare Vervolging geneem sou word vir beslissing.
