Bye het ingetrek, wat nou?
Nadat ’n driejarige kleuter in die hospitaal opgeneem moes word, nadat sy 54 keer deur ’n swerm bye gesteek is, het plaaslike byeboer, Martin Nel, gewaarsku dat bye nie met rook of Doom verwyder moet word nie.
•Die driejarige is intussen ontslaan en terug by die skool.
Mnr. Martin Nel vertel dat bye ’n baie belangrike rol in die balans van ons ekosisteem speel, en sou al die bye moes uitsterf, die aarde vir minder as ses maande sonder hulle kan oorleef.
Ten spyte van hoe gesond hulle vir ons natuurryk is, kan hulle steek dodelik wees, en daarom is dit ontwettig om bye in beboude gebiede aan te hou.
Mnr. Nel vertel dat enige inwoner wat ’n korf op hull erf het, dadelik ’n kenner moet kry om die bye te verwyder.
Hy het onder meer die verskil uitgewys tussen ’n swerm trekbye en ’n korf.
“Hierdie tyd van die jaar is bye baie aktief, en die hitte, ’n nes wat dalk oorvol is, asook die klank en vibrasie van ’n grassnyer, kan hulle baie vinnig ontstel. Daarom moet mens so min moontlik die nes ontstig en ’n kenner kry om hulle te verwyder. Rook of ’n blikkie Doom gaan nie werk nie.”
Mnr. Nel het verduidelik dat ’n swerm bye voor winter sal afstig van die oorspronklike korf, en met ’n nuwe koningin sal trek om ’n nuwe korf te vestig.
Omdat die koningin swanger is, raak sy moeg en sal hulle tydens hulle reis stop sodat sy oornag kan rus. Hulle sal vir die aand moontlik intrek teen die tak van ’n boom, en as hulle nie ’n gevaar is in jou onmiddellike omgewing nie, kan mens hulle vir ’n aand los, voordat hulle weer die pad aandurf.
Indien die swerm teen die volgende dag nie aanbeweeg het nie, moet mens hulle laat verwyder.
Mnr. Nel vertel ook dat ’n kenner kan sien of bye trek of ’n nes vestig deur waar hulle intrek. Daarom help dit om ’n foto van die nes aan die byeboer te verskaf.
Indien iemand bye wil laat verwyder kan hulle mnr. Nel skakel by 083 655 0179.
