Mank Smit hol soos Comrades atleet
’n String inwoners het hul kommer uitgespreek oor ’n bedelaar in die Midwater omgewing wat ’n gevaar vir motoriste in hou.
Bertus Marthinus Coetzer het op die Middelburg Observer Facebook groep gewaarsku dat daar ’n bedelaar op die hoek van Sondagsrivierstraat- en Keiskammalaan staan en wieg, en dat hy self gesien het hoe hy amper deur ’n motor getref word.
Die man is as Nico Smit, oor wie daar al telkemale berig is, uitgeken. Mnr. Coetzer skryf dat hy kon sien dat mnr. Smit onder die invloed van ‘iets’ was.
Talle ander inwoners het kommentaar gelewer oor hoe hulle self al amper die bedelaar raak gery het, wat sonder waarskuwing voor motors inloop. Sindy Taylor het geskryf dat syself al byna tweemaal in Smit vasgery het, en dat hy al in haar voertuig se kantspieëltjie vasgeloop het.
•Daar is in September 2020 berig oor Smit, wat mank loop en beweer hy dat hy tydens ’n ongeluk beseer is.
Toe hy destyds gevra is om letsels van die ongeluk te wys, het hy geweier. Hy het ook gevra hoekom hy moet werk as hy baie meer geld op straat kan verdien.
’n Persoon wat Smit persoonlik ken, het gesê dat hy maak of hy mank is en niks makeer nie.
•In Oktober 2021 is daar weer oor Smit berig. Hierdie keer nadat ’n inwoner Smit sien spuit het in ’n oop erf naby die Middelburg Mall. Die man, wat destyds versoek het om anoniem te bly, het besluit om te stop en ’n video te neem.
Nadat hy Smit gekonfronteer het, het dié ’n mes uitgepluk en toe laat spaander.
Die man wat die video geneem het, het vertel dat Smit ‘soos ’n Comrades atleet’ daar weggehardloop het, sonder enige teken dat hy mank is. Die man het besluit om hom nie te volg nie, omdat hy nie sy motor onbewaak wou laat nie.
•Daar is navraag by die Steve Tshwete Munisipaliteit gedoen oor wat inwoners te doen staan as hulle iemand sien wat ’n gevaar vir motoriste inhou. Munisipale woordvoerder, Prudence Magutle, het laat weet dat hul internet op die oomblik af is en dat sy so spoedig moontlik op media navrae sal reageer.