Geliefde hoof apteker gegroet
Die Middelburg gemeenskap het in hul beprowendste oomblike na die geliefde apteker, mnr. MC Engelbrecht, gedraai.
Vir ’n groot deel van sy leeftyd, het mnr. Engelbrecht met deernis as apteker, na die siekes omgesien.
Hy het vanoggend vroeg sy stryd teen kanker verloor.
Mnr. Engelbrecht (76) se gesin vertel dat hy sy kinderdae in Middelburg deurgebring het. Hy het beginjare as apteker saam met sy skoonpa by die Robb & Mcleese Apteek gewerk, waarna hy die apteek oorgeneem het.
In 1999 het hy geskuif na die S. Buys groep, waar hy tot sy aftserwe werksaam was.
Sy gesin sê dat hy almal voor homself geplaas het. Hy was ’n baie sagte mens wat almal met respek hanteer het, en het gelewe vir sy vrou, kinders en kleinkinders.
Hy was vir 53 jaar getroud met sy eggenoot Genie, en was die liefdevolle pa van sy twee kinders Arno en Marisa.
Mnr. Engelbrecht word oorleef deur Genie, Arno en Marisa, sy kleinseuns Luke, Owen en Aiden, skoonseun Jaco, en sy twee susters Sonja en Mica.
Mnr. Engelbrecht word volgende Woensdag om 11:00 vanuit die Witkerk begrawe. Weens Covid-19 regulasies word net 500 mense toegelaat, maar die diens is wel oop vir die publiek.
“Ons wil graag as kinders net elkeen bedank wat ons ma en pa in hierdie moeilike tyd so bygestaan het,” het Arno en Marisa gesê.
