Ondanks hael en versuipings wag ’n vet oes
Met die oesseisoen om die draai en buitengewone weerpatrone, word daar baie bespiegel oor wat vanjaar se oesvooruitsigte inhou.
Bo-gemiddelde reënneerslae oor groot gedeeltes van Suid-Afrika se somergraan en oliesaad produksiegebied, word aan ’n La Niña weerpatroon toegeskryf. Hierdie was die tweede jaar wat die weerpatroon aktief was en aanduidings is dat dit eers teen April sal normaliseer.
Rand Agri se manne het besluit om eerstehands te gaan ondersoek instel. Hulle het tussen 19 en 31 Januarie ’n lug- en veldtoer aangepak om ’n beter idee van veral die waterskade en algehele graantoestande te kry.
Veldagente by Rand Agri se terugvoer is dat daar ’n gemiddelde tot bo-gemiddelde oes vir die 2022 seisoen verwag kan word.
Aanplantings in Mpumalanga grotendeels belowend
Middelburg Noord en Suid se graanaanplangtings lyk baie goed.
In die Wonderfonteinarea is daar gedeeltes waar versuiptoestande voorkom, maar dit is relatief klein, gegewe die groter prentjie.
Gedeeltes van aanplantings in Hendrina het vloedskade opgedoen en vertoon onder-gemiddeld. Waterskade word meestal toegeskryf aan swaar neerslae en swak hitte-eenhede tydens die plante se groeiperiode.
Tussen Standerton en Amersfoort is graanaanplantings besonders mooi en boere in die omgewing verwag gemiddeld tot bo-gemiddelde oeste.

Aanplantings in die Ermelo en Leslie area steek effens af teen die res van die provinsie en daar word voorspel dat daar slegs gemiddelde oeste gelewer sal word. In Leandra is daar ook gemiddelde oeste, maar met ’n belowende opbrengspotensiaal.
Kriel en Ogies het gedeeltes wat kwaai deurgeloop het onder haelskade. Dit maak dit moeilik om tans ’n gemiddelde opbrengs te bepaal. Indien die mielies nog jonk genoeg was, is daar ’n moontlikheid dat die aanplantings steeds kan herstel.
Die soja-aanplantings in Mpumalanga het goed gebaat by die sonskyn wat die afgelope twee weke ervaar word. Dit het broodnodige hitte eenhede vir die plante se groeiproses gebied en die stand lyk daarom aansienlik beter.
Rand Agri se oestoestandskatting vir die somerproduksiegebied
• Noodwes gebied: Gemiddeld tot bo-gemiddeld.
• Wes-Vrystaat: Onder-gemiddeld.
• Oos-Vrystaat: Gemiddeld.
• Mpumalanga: Bo-gemiddeld.
Die maatskappy se voorlopige mielie-oesskatting (na kwalitatiewe waarnemings) is 14,26 miljoen ton terwyl sojabone op 1,6 miljoen ton vir die 2022/2023 seisoen geskat word.
(Neem kennis dat hierdie die voorlopige stand van sake weerspieël en dat omstandighede en neigings weekliks bestudeer en moontlik aangepas kan word).
