News

Rower met smiley masker was al voorheen by aanval betrokke

“Dis presies dieselfde ouens...Die polisie gaan weer niks doen nie...Ek sal daai twee se stemme nooit vergeet nie en ook nie die masker nie!”

Die woorde wat ’n vrou op Facebook geplaas het nadat sy en haar skoonsuster gister die videomateriaal gesien het van die groep onderwysers van Ermelo wat Vrydagaand deur die N4 rowers oorval is.

Beide vroue het koue rillings gekry toe hulle die videomaterial sien van wat op die toneel gebeur het.

“Ek sweer dis dieselfde ouens wat ons aangehou het. Daai masker lyk ook presies soos een van hulle s’n!”

Een van die vroue, wat verkies om anoniem te bly, omdat sy vrees vir hul lewens, het vertel hoe hulle op 19 Desember 2021 by ’n winkel in Pullenshope aangeval is.

Lees ook: Angswekkende beelde toe onderwysers oppad vanaf atletiek op N4 beroof word

“Hulle het ook vir ons gesê om moenie vir hulle kyk nie. Alles soos op die video van die onderwysers. Alles klink dieselfde!”

Sy vertel dat hulle die betrokke dag na die winkel is om ’n paar goedjies te koop. Die vrou, asook haar skoonsuster en dié se man en hul ses maande oue baba, was in die voertuig.

“Terwyl ons aangery gekom het, het ons nog grappies gemaak oor die swart BMW, sonder nommerplate, wat oor drie parkerings gestaan het. My swaer het gesê: ‘ja dis mos Pullenshope. Wie kan parkeer?”

Sy het gestop en was nog besig om uit te klim, toe alles tegelyk gebeur.

“Die eienaar van die winkel het uitgestap met sy hande in die lug. Agter hom was twee mans met handwapens. Die een het die wapen in sy rug gehou.”

Die vrou wou terugspring in die kar, maar die een rower, “die een met die Smiley masker op soos die een met die onderwysers se rooftog” het blitsig na haar toe gehardloop en haar aan die arm gegryp.

Hy het met die wapen beduie dat hulle almal moet uitklim en die winkel moet ingaan.

“Ek het nie eers kans gehad om my kar se sleutels uit te haal nie.”

In die winkel het sy gesien dat daar ten minste vyf rowers is, almal gewapen. “Hulle stemme was ook dieselfde as dié wat die onderwysers beroof het!”

Lees ook: Meisie vertel van rillernag saam met ontvoerders

Sy onthou hoe die rowers hulle deursoek het vir selfone, “maar hy het gelukkig nie my selfoon raakgevoel nie.”

Die vrou het opgemerk dat buiten hulle drie en die baba, daar ook ander mense in die winkel oorval is.

“Daar was ’n man met ’n tienjarige dogtertjie by hom, asook ’n vrou met twee kinders van 16 en 13 jaar by haar. Dit was opmerklik hoe kalm almal opgetree het, die kinders inkluis! Die eienaar van die winkel en twee van sy werknemers was ook deel van die groep.”

Die rowers het vir almal in Engels gesê om nie vir hulle te kyk nie en hulle gedwing om met hul gesigte na onder “tussen die tjipsrak en die yskaste” op die grond te lê.

“My swaer is toegelaat om met die baba in sy arms op die stoel te sit, maar hy mag ook nie vir hulle gekyk het nie. Ek was bekommerd toe die baba kriewelrig raak, maar dit het gelukkig gou weer opgehou.”

Minute nadat almal op die grond gaan lê het, het twee van die rowers die eienaar van die winkel kom haal.

“Ek het gedink hulle gaan hom skiet, want hulle het verskriklik met hom tekere gegaan. Ek het op ’n stadium my hande oor my ore gedruk om nie te hoor hoe hulle hom oor die kop slaan en op hom skree nie. Hoe meer hy vir hulle gesê het hy het nie ’n kluis nie, hoe meer woedend het hulle geword!”

Terwyl die rowers heen en weer in die winkel beweeg het en oor hulle geloop het, het een van hulle op haar regterhand getrap.

“Die oomblik toe hulle terugkom met die winkeleienaar uit sy kantoor uit, het die een my sommer in die gesig geskop.”

Sy weet nie hoe lank hulle so gesig na onder in die stilte gelê het nie, toe die werknemer opstaan en vir hulle sê hy dink die rowers is weg. “Hulle het só sag uitgegaan dat ons nie eers gehoor het hulle trek die deur toe en ry met die BMW weg nie!”

Almal het dadelik die winkeleienaar, wat se mond vol bloed was, gehelp.

“Hy het vir ons gesê sy een tand is gebreek, terwyl hulle hom geslaan het. Sy kop was vol knoppe en hy het gesê hulle het hom met ’n hamer oor die kop geslaan.”

Die vrou het haar selfoon gegryp en die Pullenshope Buurtwag gekontak. Die polisie is ook gebel.

“Die winkeleienaar het vir my gesê dit help nie ek bel die polisie nie, want hy is al ’n paar keer beroof en daar het elke keer niks van gekom nie.”

Hulle het roofklagtes na die voorval by die Hendrina Polisiestasie geopen.

Na die gebeure het die vrou op haar Facebookblad die volgende geplaas: “Dankie, dankie, dankie Vader ons het veilig uitgestap. Was nog nooit so bang in my lewe nie. ’n Nagmerrie wat ek nooit weer wil oor hê nie! My rug en my gesig net seer, maar ek is okey. Almal darem okey. Dankie, dankie.”

•Etlike dae na die rooftog het die vrou die polisie laat weet dat hulle dieselfde tipe BMW in die Komati Kragstasie se woongebied opgemerk het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Check Also
Close
Back to top button