News

Wie sit agter hierdie sabotasie van ons dorp?

’n Trokdrywer is gisteraand deur mans, wat gedreig het dat hulle hom gaan skiet, gedwing om sy trok dwars oor die pad in Walter Sisulustraat te trek.

Die drywer het later vir die gemeenskapspolisiëringslede gesê dat hy kort voor 19:00 gestop het vir ’n rooi lig op die hoek van Walter Sisulu- en Ngoakostraat. ’n Swart voertuig het voor die trok gestop en gewapende mans het die drywer gedwing om sy steenkooltrok dwars oor die pad te trek.

“Hulle het vir hom gesê hulle gaan hom skiet as hy nie doen wat hulle sê nie,” vertel Herculaas Taljaard (gemeenskapspolisiëringsforum, sektor 1).

Die mans het daarna vir die drywer gesê dat hy die vrag moet aflaai, maar nog voor die vrag afgelaai kon word, het voertuie aangery gekom en op Zello ingeroep dat daar probleme is.

Mnr. Taljaard sê hy en nog ’n paar GPF-lede het op daardie stadium gestaan op die N11, omdat hul hulp gevra is nadat daar ’n VW Polo in eMalahleni gesteel is.

“Die polisie het die voertuig verloor op die Tokologopad en ons het waar die grondpad aansluit op die N11 gaan toemaak, aangesien hy moontlik daar kon uitkom.

Die oomblik toe die inroep van die trok in Walter Sisulustraat deurkom, het een van die mans wat saam met die GPF-lede op die N11 was, teruggejaag dorp toe.

Sowat twee blokke van waar die trok oor die pad getrek was, is ’n swart voertuig naby die trok opgemerk. Die booswigte het egter ’n U-draai gemaak en weggejaag.

Herculaas sê dat hy en nog lede van sê die GPF sektor 1, Rachel, Willem en Cornelius Kies, teruggejaag het na die troktoneel en daar saam met lede van die Noodroep Radiogroep Sektor 3 lede hulp verleen het met die verkeer.

Herculaas het ook gehelp met ’n tegniese probleem op die trok voor Van Wettens Insleepdienste die trok om 22:30 kon wegsleep.

•Die mans het weggekom met die trok se sleutel.

•Daar kan net bespiegel word wat die rede was waarom die mans die verkeer wou ontwrig en daar kan tereg gevra word of dit nie die werk was van die stakende munisipale werkers nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button