Swart kar gesien voor mans trok stop
’n Eiendomsagent glo munisipale stakers, of iemand wat hulle help, was Dinsdagaand verantwoordelik vir die ontwrigting van verkeer in Walter Sisulustraat.
Die agent, op voorwaarde van anonimiteit, sê hy het gister die berig gelees van die trok wat dwars oor die pad geparkeer is.
Die oomblik toe hy lees daar was ’n swart voertuig betrokke, het hy “twee en twee bymekaar gesit.”
Hy het Dinsdagaand kort voor 18:30 in Lilian Ngoyistraat afgery en opgemerk dat daar ’n swart voertuig voor die brandweerstasie se oproldeure staan.
“Die voertuig was so geparkeer dat die brandweer nie sou kon uitkom as daar ’n noodgeval was nie.”
Dit was vir hom opmerklik in die berig dat die trokdrywer omstreeks 19:00 by die verkeerslig deur mans in ’n swart voertuig oorval is, “net nadat ek die voertuig gesien het voor die brandweer.”
•Omdat hy baie rondry as eiendomsagent, het hy al talle kere ’n NP200 bakkie gesien “wat gereeld in die omgewing is waar daar moeilikheid is. Hy jaag altyd op en af sonder nommerplante.”
Met die vorige staking het ek die mense van hierdie spesifieke bakkie gesien karring by ’n kragboks op die hoek van Rivier- en Joubertstraat. Dieselfde groep is ook die eerstes wat hul braaiers uithaal en kuier as daar gestaak word.”
Die agent meld dat daar saam met die bakkie sonder nommerplate, ’n H1 Hyundai bussie rondbeweeg waarvan hulle ook die nommerplate afhaal.
“Ek het hulle al tussen 02:00 en 03:00 in die middernagtelike ure gesien waar hulle by kragbokse karring. Hierdie voertuie beweeg altyd saam met die stakers rond en lyk vir my hulle is die moeilikheidmakers.”
•Hy is omgekrap oor die gevolge wat die staking en die moeilikheidmakers nie net op die dorp nie, maar ook die ekonomie van ons dorp het.
“Dit het ’n hele sneeubal effek. Die eiendomsagente kan al vir maande nie ’n salaris trek nie, want ons kan nie Spluma sertifikate kry nie. Maar wat van elke persoon wat deel is daarvan? Die mense wat die Spluma doen, die ouens wat weerligafleiers moet doen, noem dit. Almal se werk staan!”
Hy kan nie glo dat hierdie mense wat sabotasie pleeg, word nie vasgevat nie.
“’n Paar outjies haal net hul nommerplante af en maak soos hulle wil en daar word niks aan gedoen nie!”
•Dieselfde aand wat die trok gedwing is om dwars oor die pad te trek in Walter Sisulustraat, was daar tot laat die aand ’n groot partytjie in die parkeerarea voor die munisipale gebou in Walter Sisulustraat.
“Ek het daar verby gery en daardie selfde NP200 bakkie was daar!”
