VF Plus help voëlpark in Middelburg tydens waterkrisis
Die VF Plus het ingegryp om te verseker dat water aan die Amora Voëlpark in Middelburg verskaf word tydens die waterkrisis wat dié dorp beleef het.

Die VF Plus het met die hulp van die plaaslike brandweer water in die park se watertenks laat pomp om die nood van die talle geveerdes en ander diere wat hier versorg word, te verlig midde van ʼn hittegolf.
Die waterkrisis was veroorsaak deur ʼn gebarste waterpyp en ʼn lekkasie by die plaaslike reservoir wat Middelburg vir etlike dae sonder water gelaat het.
Waterverskaffingsprobleme weens ʼn gebrek aan instandhouding en vervanging van vervalle waterinfrastruktuur, teister die Steve Tshwete-plaaslike munisipaliteit (Hendrina, Middelburg, Pullens Hope en Rietkuil) reeds etlike maande.
Met die 2021/22-geintegreerde ontwikkelingsplan (GOP) is daar ʼn driejaar-plan beloof om verouderde en vervalle waterinfrastruktuur te vervang, maar die projek het tot stilstand gekom weens die geskil tussen die munisipaliteit en stakende munisipale werkers oor loonverhogings.
Die VF Plus het ook einde verlede jaar ʼn klag by die menseregtekommissie (MRK) ingedien om die munisipaliteit te ondersoek vir die skending van inwoners se basiese reg om toegang tot skoon water.
Die VF Plus sal nie skroom om sy invloed in die munisipale raad te gebruik om die lewensgehalte van inwoners en in hierdie geval ook diere, te verbeter nie.
