News

Swanger meisie praat: ‘ek is nié op dwelms!’

Frankie Swart se meisie, Yshé Noah (27), sê sy is nié op dwelms nie en “dat niemand my baba by my sal wegvat nie.”

Sy het reageer op die berig op www.mobserver.co.za waar Frankie se ma, Mariaan, oortuig is daarvan dat Yshé nog dwelms gebruik en dat sy gaan probeer om te veg vir toesig vir die baba.

Yshé sê sy is baie lief vir Frankie, “maar my kind kom eerste. Ek sal nie my kind weghou van sy pa af nie, maar ek sal ook nie my kind blootstel aan dwelms nie.”

Die joernalis het eers met familie van Yshé gister gepraat wat vertel het hoe Yshé dadelik die dwelms gelos het toe sy hoor sy is swanger.

“Ons én die kliniek toets haar gereeld en sy toets die hele tyd negatief.”

Hulle het vertel dat Yshé nie vir jare ’n dwelmslaaf is nie. “Sy het met dwelms begin eksperimenteer na haar ma se dood. So dit was vir haar maklik om die dwelms te los toe sy agterkom sy is swanger.”

Yshé het egter besluit om self haar en Frankie se verhaal te vertel.

“Frankie is nie ’n slegte mens nie. Toe ek swanger geraak het, het hy my gerespekteer deur nie naby my dwelms te gebruik nie. Selfs toe ons op straat was, het hy elke dag gesorg dat ek kos het en ’n warm kombers om onder te slaap.”

Yshé vertel dat sy op ’n stadium by familie in Middelburg gebly het en Frankie ontmoet het, toe hy ’n kamer daar gehuur het.

“Omdat ek self Crystal Meth gebruik het, het ek baie gou agtergekom hy is ’n dwelmverslaafde”

Dinge het suur geraak by die familie en sy en Frankie het op straat beland. “Dit was die eerste keer in my lewe dat ek op straat was en ek het nie gedink dit sou so moeilik wees nie.”

Lees ook: Bekende dwelmslaaf toegesluit nadat hy agter verslaafde swanger meisie aan is

September 2021 het sy agtergekom sy is swanger.

“Ek het nie baie dwelms gebruik nie, soms net ’n halwe sakkie op ’n slag en ek het dit dadelik gelos toe ek besef ek is swanger. ’n Mens moet die wil hê om dit te los en ek het besluit, dit is klaar.”

Sy sê dat Frankie haar besluit gerespekteer het en dadelik opgehou het om naby haar dwelms te gebruik. Dit was egter vir haar baie moeilik om op straat te wees.

“Ek weier om te bedel en bedags het Frankie gaan bedel. In die aande het ons in die aankondigershokkie by Kees Taljaard Stadion geslaap.”

Frankie het intussen ’n werk gekry by iemand. “Hy het die oom gehelp en ons het in sy buitekamer gaan bly. Hy het egter nooit vir Frankie betaal nie. Ons het darem elke aand ’n bord kos gehad en ’n dak oor ons kop. In die dag het ek egter niks geëet nie.”

Hul omstandighede het vir haar moeilik begin raak toe hulle weer op straat beland en sy het besluit om liewer uit Middelburg te gaan.

“Ek ken niemand hier nie en is in Desember na familie toe. Frankie het dit verstaan. Hy het gesê: ‘’n Vrou hoort nie op straat nie en veral nie ’n swanger vrou nie.”

Yshé sê sy kyk beslis “nie sy skelmstreke mis nie. Hy het aan die begin vir my gesê dat hy die goed waarmee hy altyd by ons aangekom het, as geskenke gekry. Later het ek besef hy het dit gesteel. Hy het selfs my duur haardroeër en ander artikels vir dwelms verkoop toe ons nog by familie in Middelburg gebly het.”

Sy was net sowat ’n week in Pretoria, toe Frankie ook daar aankom. “My familie het nie geweet Frankie is ’n dwelmslaaf nie.”

So paar weke gelede het dinge vir haar te veel geword by die familie in Pretoria. “Ons was omtrent agt mense wat daar gebly het en daar was net nie genoeg plek nie.”

Sy het vir hom gesê sy gaan kuier vir familie in eMalahleni en is soontoe.

Frankie het intussen weer vir werk gaan soek in Pretoria. Hy het egter besluit hy wil haar volg eMalahleni toe en het besluit om al hul babagoedjies, soos die bababedjie, karstoeltjie en ander artikels te gaan haal waar dit gestoor was.

“Frankie het laat weet hy ry saam met iemand om dit te gaan haal. Die volgende oomblik het hy net verdwyn!”

Yshé het nie ’n foon van haar eie nie, maar Frankie het ook nie familie laat weet wat van hom geword het nie. Sy het Frankie se ma gebel en vir haar laat weet Frankie is weg.

“Ek het nog vir haar gevra sy moet ’n vermiste persoon saak gaan oopmaak in Pretoria Noord. Die vyfde dag het sy laat weet dat Frankie vir dwelmbesit gearresteer is.”

Yshé sê sy weet nie die presiese omstandighede van die arrestasie en wat verkeerd geloop het die dag toe hulle die babagoed moes gaan haal het nie.

“Frankie is gearresteer en die ander ou is weg met al ons babagoed. Die ander man het dit blykbaar verkoop.”

Sy sê die organisiasie wat haar in Pretoria gehelp het met die baba-artikels, het gesê dat sy nie kontak met hulle moet verloor nie en haar moontlik steeds kan help.

“Gelukkig is ek tussen familie en het ek babakleertjies.”

Yshé het verneem dat Frankie hierdie week weer in Middelburg aangekom het. Hy het haar nog nie weer gekontak nie, omdat sy sukkel sonder ’n selfoon.

Yshé erken dat sy nog baie lief vir Frankie is. “Liefde is nie ’n knoppie wat jy net aan en af sit nie. Frankie is nie ’n slegte ou nie. Hy is ’n goeie mens. Hy jaag net te veel ‘k&k aan! Hy sal homself net eers moet bewys voor ek sal dink daaraan om met hom te trou. Hy jok so goed, dat mens hom maklik glo!”

Dwelmgebruik gaan sy egter glad nie duld in haar kind se omgewing nie.

“My kind is nou die belangrikste. Hy of sy kom eerste!”

•Yshé sê sy was gewoond daaraan om vir haarself netjiese, duursame artikels te koop, toe sy voorheen gewerk het, voordat sy Middelburg toe gekom het.

“Ek wil graag weer werk, maar mense wil nie nou vir my werk gee nie, omdat ek swanger is.”

•Op die vraag waar sy en Frankie hul Kristal Metamfetamien gekoop het toe hulle saam in Middelburg was, het sy gesê: “Daar in Middelburg is dwelmhandel gróót”.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Check Also
Close
Back to top button