Kommer na vrou spoorloos verdwyn
Jolene du Plessis (39), ’n werknemer van Alzu Voere, is Saterdag as vermis by die Groblersdal Polisiestasie aangemeld, nadat sy nie die vorige dag vir werk opgedaag het nie.
Sy het op 24 Januarie by Alzu aangesluit.
Haar werkskollega, wat op versoek anoniem wil bly, sê dat hy Vrydagoggend omstreeks 07:00 opgedaag het vir werk, maar dat me. Du Plessis, wat op die rooster was vir die dag, nooi opgedaag het nie.
Verskeie oproepe en boodskappe is op haar selfoon gelos, maar daar was geen reaksie nie.
Saterdagmore het die kollega me. Du Plessis se landheer geskakel wat gesê het dat sy omstreeks 06:00 Vrydagmore met haar voertuig by die woonstel weg is.
Die kollega het me. Du Plessis se familie in Nelspruit gekontak, wat bevestig het dat hulle ongeveer twee weke gelede laas met haar kontak gehad het.
Sy is toe as vermis aangemeld.

Die werkskollega sê hy was onrustig omdat sy nie sommer van die werk af sou bly nie, omdat haar African Grey papegaai, Ruby, by die werk aangehou word weens ’n geen-troeteldier reël by haar huurplek.
“Sy is baie lief vir Ruby en sal nêrens sonder haar gaan nie. Sy kon gewoonlik nie in die oggend wag om by die werk te kom nie. Sy was al ’n naweek weg na haar huis op Carolina om tyd saam Ruby te kan spandeer”.
Die woonstel word vir Du Plessis gehuur deur Alzu Voere, aangesien sy net tydelik uithelp by hulle. Haar persoonlike besittings is steeds in haar woonstel.
“Ek het by haar woonstel ingegaan om haar wasgoed te gaan haal, en alles lê nog net soos sy dit gelos het,” sê haar landheer.
Me. Du Plessis is die naweek van 4 Februarie Carolina toe. Sy het eenvoudig spoorloos verdwyn.
Persone met inligting wat kan help om haar op te spoor, word gevra om hul naaste polisiestasie, of konstabel Phokane by 076 122 9648, te skakel.
• Die polisie vra dat die publiek op die uitkyk sal wees vir Du Plessis se voertuig, ’n geelgroen Citroën C1 met registrasie FTT299MP.
• Me. Du Plessis was op 21 Januarie laas aktief op haar Facebook-profiel. Daar is op haar Facebookprofiel verskeie foto’s van Ruby met liefdesbyskrifte.
