News

Etricia Swart onthou vir haar “bol liefde”

Etricia Swart, die vrou wat almal altyd met haar groot glimlag en ‘bol liefde’ oorrompel het, is vanoggend kort voor 04:00 in die Life Midmed Hospitaal oorlede.

Haar man, Nico, het met dié spesiale boodskap almal in kennis gestel van haar afsterwe:

“Hi almal. die Here het hierdie pragtige Blom kom haal. Dankie Here dat ons die wonderlikste tye saam kon deel. Ek eer U Naam vir groot genade.”

Mnr. Swart, voorheen ’n predikant by die APK Gemeente en tans bestuurder by die SAVF Tehuis vir Bejaardes,, sê “alles het so vinnig gebeur” die afgelope twee weke.

Sy is in 2020 met kanker gediagnoseer, maar sy het hard teen die siekte geveg.

“Soms het dit beter en slegter gegaan, maar twee weke gelede het sy nog gewerk.”

Me. Swart het ’n rukkie gelede begin moeg word by haar werk by PWC (Price Waterhouse Coopers) en hulle het aangebied dat sy van die huis af werk.

“Etricia wou egter nie van die huis af werk nie. Sy wou haar mooi maak, sy wou opstaan en gaan werk.”

Mnr. Swart sê toe sy baie siek begin word, het hy en die seuns en haar ma haar tuis versorg, solank as wat hulle kon.

Die pragfoto wat Nico vanoggend op Facebook geplaas het om almal in kennis te stel dat sy blomvrou oorlede is.

“Saterdagaand het ons egter besluit om haar hospitaal toe te vat, dat hulle haar gemaklik kon maak vir die pyn. Ons het ook vir almal gevra om saam te bid dat sy nie meer pyn sou hê nie.”

Hy beskryf sy 25 jaar getroude lewe saam met sy vrou “as die beste tyd van my lewe. As ek Etricia moet opsom in twee woorde, dan is dit ’n ‘bol liefde’. Liefde vir haar Skepper, vir my, haar kinders, haar werksmense, almal met wie sy te doene gehad het. En soveel mense het gesê hulle onthou Etricia vir haar lag.”

In hierdie tyd van haar siekte en ook nou met haar afsterwe, is dit die liefde van die gemeenskap wat hom bybly.

“Middelburg se mense het weereens net dieper in my hart geklim. Ons het die wonderlikste gemeenskap hier. Die menslikheid, die omgee en die liefde is net enorm. So baie dankie vir elkeen van julle.”

Buiten die meer as 400 boodskappe van simpatie wat reeds begin instroom het op Facebook, bly mnr. Swart se foon nie ’n oomblik stil nie met WhatsApp boodskappe en oproepe wat inkom. “En ek wil vir elkeen dankie sê dat julle so omgee.”

Me. Swart word oorleef deur haar man, Nico, seuns Etric en Enco, familie en vriende.

•Daar is nog nie begrafnisreëlings getref nie. Sodra dit beskikbaar is, sal www.mobserver.co.za dit publiseer.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Check Also
Close
Back to top button