Waarheen is al die militêre voertuie op pad?
’n Trein, gelaai met militêre voertuie, het oor die naweek deur Middelburg gereis.

Johan Janse van Rensburg het ’n video daarvan geneem.
Die militêre voertuie was onderweg na Nelspruit waar president Cyril Ramaphosa vandag, Maandag 21 Februarie, die Suid Afrikaanse Nasionale Weermag sal toespreek ter viering van gewapende magte-dag.
Die dag word gevier ter herinnering van die SS Mendi weermagskip wat in 1917 in die Engelse Kanaal gesink het. Daar het 600 mense omgekom tydens die voorval wat in die Eerste Wêreldoorlog gebeur het.
Inwoners het ook foto’s gestuur van weermagvoertuie wat verlede Donderdag by die Middelburg tolhek op die N4 gesien is. ’n Inwoner wat die konvooi gesien het, het gesê dat daar ’n geskatte 60 weermagvoertuie was.
• President Ramaphosa sal na verwagting ’n krans by die Wêreldoorlog monument in Barberton lê, gevolg deur ’n militêre parade in Nelspruit waarna hy sy toespraak sal lewer.
