News

Lewenslank vir plaasaanvallers – vrou praat oor nag van hel

Drie mans is tot lewenslange tronkstraf gevonnis, nadat hulle in Desember 2018 ’n plaasaanval in die Alldays distrik uitgevoer het.

Oud advokaat Johan Kruger is sonder waarskuwing in die kop geskiet, terwyl sy vrou, Fiona, vir ure gemartel is deur aanvallers, op soek na geld. Drie verdagtes is dieselfde nag gearresteer, nadat mev. Kruger daarin kon slaag om hulp te ontbied by die bure.

Kholofelo Mitileni (23), Motame Ramohadi (29) en Mohale Edmond Malatjie (37) is laas week die swaarste straf moontlik opgelê, deur regter Ephriam Makgoba in die Polokwane Hooggeregshof, toe hy hulle tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis het.

Hulle het onskuldig gepleit op aanklagte van moord, twee klagte van roof met verswarende omstandighede, poging tot moord en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Een van die roof klagtes spruit uit ’n ander voorval, ’n paar dae voor die plaasaanval, waar hulle ’n besigheidseienaar van sy motor, geld en winkelvoorraad besteel het. Die voertuig is gebruik as wegkommotor in die plaasaanval op die Kruger egpaar.

Fiona Kruger se toon, waar aanvallers haar met ‘n hamer geslaan het om inligting uit haar te kry.

Regter Makgoba het in sy uitspraak gesê dat daar geen twyfel is dat die beskuldigdes die aanval haarfyn beplan het en dat hulle die swaarste straf vir hul optrede verdien.

“Mense soos julle moet uit die samelewing verwyder word,” het regter Makgoba gesê.

Voor die aanval was die Kruger egpaar vir 13 jaar getroud. Hulle het Makkopas Nest River Lodge saam herbou en eers in ’n chalet gebly, tot hulle besluit het om vir hulle ’n woonhuis te bou. Die egpaar het die lodge saam bestuur tot die nag van 13 Desember 2018.

Tydens die verhoor het die hof gehoor hoe me. Kruger en haar man op die noodlottige nag van die lodge na hul woonhuis gegaan het omstreeks 23:00.

Terwyl mnr. Kruger besig was om hul slaapkamerdeur oop te sluit, het sy gesien hoe drie figure uit die tuin na hulle toe beweeg. Voordat sy kon besef wat aangaan, het een ’n wapen teen haar man se kop gedruk en die sneller getrek.

“Ek het dadelik geweet hy is dood,” het me. Kruger gesê.

Haar aanvallers het haar gegryp en haar bo-oor haar man se liggaam na binne die huis gedwing. Daar is sy met draad, vasgemaak, wat hulle klaar in die regte lengte geknip het.

Die volgende paar ure was ’n hel wat me. Kruger nooit sal vergeet nie.

Sy is aanhoudend gepols oor kontant, wat daar nie was nie. Sy het die R250 wat sy vroeër die aand uit die lodge se kasregister gehaal het, vir hulle aangebied.

Me. Kruger het vertel dat sy lam en sprakeloos van skok was. Die aanvallers het die hele huis geplunder. Hulle het haar onder andere met ’n hamer oral op haar lyf, haar tone en hande geslaan en haar ook met ’n tang gemartel.

Die platskerm televisie wat agter in ‘n motor deur ‘n boer raakgesien en op die plaasaanvallers se spoor gesit het.

Toe hulle nie tevrede is met die buit in die huis nie, het hulle me. Kruger na die lodge toe geneem.

Daar het hulle talle waardevolle items soos juwele, ou muntstukke en gewere uit die instapkluis gebuit. Hulle het ook olifanttande en die buurman se wapens, wat hy daar kom stoor het, geroof.

Daarna is hulle terug na die Kruger egpaar se woonhuis toe, waar me. Kruger geslaan, rondgegooi en herhaaldelik gedreig is dat sy doodgemaak gaan word. Sy moes minstens ses keer oor haar man se lewelose liggaam klim in die tyd wat die aanvallers in hul huis was.

So skielik soos wat hulle gekom het, is die aanvallers weer weg. Me. Kruger het daarin geslaag om los te kom en hulp by die bure te ontbied.

Die area se boere het soos blits gereageer en Mitileni, Ramohadi en Malatjie is gearresteer na ’n skietgeveg met ’n boer. Hy het hulle in Alldays raakgesien te danke aan die grootskerm televisie wat saam met hulle in die kar was, en die voertuig afgetrek.

Me. Kruger het na hofverrigtinge aan www.mobserver.co.za gesê dat sy dankbaar is dat die rillergebeure nou agter haar is maar dat sy steeds sukkel om met die verlies van haar lewe soos sy dit geken het, vrede te maak.

Die olifanttande wat uit Makkopas Nest Lodge se instapkluis gesteel is.

“Ek het my man, my huis, my hele bestaan, in ’n oogwink verloor,” het sy emosioneel gesê.

Me. Kruger wou graag die regter asook advokaat Kobus Jacobs wat vir die staat opgetree het, bedank. Sy het die polisie geloof vir hul deeglike ondersoek en bedank ook al die boere wat soos blits opgetree en gesorg het dat die verdagtes agter tralies kom.

• Me. Kruger het na die aanval vir sowat agt maande in Middelburg kom bly om te probeer herstel. Sy het ook plaaslik berading ontvang.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Check Also
Close
Back to top button