News

Dwelmverslaafdes besteel bebloede man op ongelukstoneel

’n Jong man is ernstig beseer op ’n ongelukstoneel gelaat, terwyl dwelmverslaafdes sy besittings van sy lyf af gesteel het.

Ruan Groenewald (24) was Vrydagnag op pad na ’n vriend op ’n plaas toe hy vanuit Scheeperstraat, Hendrina se hoofstraat, Kerkstraat, probeer oorsteek het.

Die straat staan snags toegeparkeer van trokke wat daar oornag, wat die sig vir motoriste belemmer.

Mnr. Groenewald moes in Kerkstraat in ry, om te kyk vir aankomende verkeer. In die proses het ’n Toyota Fortuner hom op die bestuurskant getref, wat sy Land Cruiser bakkie se bak laat afbreek het en sy kajuit op sy sy laat beland het. Mnr. Groenewald was onder die kajuit vasgekeer.

Die ongeluk en daaropvolgende gebeure is op videomateriaal van ’n nabye besigheid vasgevang.

Soos blits het ’n groep dwelmverslaafdes, waarna daar plaaslik as Nyaope boys verwys word, die bakkie se kajuit van mnr. Groenewald afgetel. Dit was egter nie om sy lewe te red nie, maar om by sy besittings uit te kom.

Dwelmverslaafdes het die bakkie van Ruan Groenewald afgelig om sy besittings te steel. FOTO: Verskaf.

Hulle het sy vuurwapen, beursie en selfoon van hom af gesteel en die ernstig beseerde mnr. Groenewald net daar laat lê.

Toe hulp opdaag, het mnr. Groenewald bekommerd gevra na die welstand van sy hond, Nonna, wat agter op die bakkie was tydens die ongeluk. Nonna is die volgende dag ongedeerd langs die Arnotpad opgespoor.

Die bestuurder van die Fortuner is op die toneel deur paramedici behandel en saam met sy familie huistoe. Mnr. Groenewald lê tans in die Dr George Mukhari Akademiese Hospitaal.

Sy ma, Luré Groenewald, sê dat haar seun meestal kopbeserings opgedoen het en dat dit vreeslik geswel is. Dokters monitor sy wonde.

“Onder omstandighede gaan dit goed. Hy kan praat en beweeg en boodskappe vir ons tik. Hy wil ook net heeltyd weet hoe gaan dit met sy hond Nonna. Hy is vreeslik erg oor haar,” vertel me. Groenewald.

Sy hoop dat haar seun spoedig huistoe gestuur sal word, sodat sy self na hom kan omsien.

• Vryheidsfront raadslid, Corrie Wolmarans, is woedend oor die ongeluk. Hy sê dat hy toevallig vroeër die Vrydag in ’n Gemeenskapsveiligheid en politieke moniteringsvergadering was, omdat hy op die komitee dien.

Hy het kwessies oor die trokke wat Hendrina, en veral die hoofstraat, letterlik toe parkeer en ander motoriste se sig ernstig belemmer, aangeraak. Hy het ook die feit dat trokke enige plek stop, self op sypaadjies in woonbuurte, asook die hoë spoed waarmee hulle die dorp in ry, genoem.

Bloedspatels wys waar Ruan Groenewald onder die bakkie vasgekeer was. FOTO: Verskaf

“Die trokke staan die hele straat toe en dis onmoontlik om aankomende verkeer te sien as jy die straat moet oor steek. Ek het gewaarsku dat daar nog ongelukke gaan wees en iemand gaan nog dood gaan,” sê mnr. Wolmarans.

Mnr. Wolmarans sê dat hy die aand met die ongeluk agter die insleepvoertuig aangery het en 22 trokke getel het wat oor drie blokke gestaan het.

Hy sê ook dat mens duidelik op die videomateriaal sien hoe mnr. Groenewald eers stop, en dan vorentoe ry in ’n poging om te sien of daar verkeer aankom, voordat die ongeluk gebeur.

Hy het voor verlede Vrydag se vergadering ook al twee maal by die Hendrina verkeersafdeling gaan aanklop om hulp. Die kantoor is tans gesluit as gevolg van die munisipale staking.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button