Personeel en kliënte met wapens aangehou in dokters spreekkamers
Vyf voertuie van Mid Alarms het gistermiddag uitgejaag na bekende dokters se spreekkamers in die Sentrale Sakegebied, nadat ’n vrou hulle gekontak het met die woorde: “kom asseblief gou, ons word beroof.”
Shane van Rooyen (operasionele bestuurder, Mid Alarms) sê hul reaksiebeamptes was binne drie minute daar, maar toe was die rowers reeds weg.
“Een van die mense sê daar het ’n wit voertuig op die sypaadjie gestaan, met ’n man in wat op die groep in die spreekkamer geskree het. Kort daarna het hulle uitgehardloop, in die kar gespring en weg gejaag.”
Shane sê volgens sy kennis was daar vier rowers wat ingestap het by die spreekkamer en personeel en kliënte met wapens aangehou het. Een vrou moes haar juwele afhaal en selfone, kontant en ’n handsak, is ook by pasiënte geroof.
Net etlike minute nadat Mid Alarms op die toneel aangekom het, het die polisie ook opgedaag en die slagoffers se verklarings geneem.
Herculaas Taljaard (gemeenskapspolisiëringsforum Sektor 1) sê hulle het ook die noodroep op die Zello kanaal gehoor en het daarheen gejaag.
Hy het gehoor dat ’n wit voertuig met swart strepe betrokke was en ook ’n klerebeskrywing van die verdagtes gekry.
Herculaas het in Beyers Naudestraat afgery en by OR Tambostraat, langs die hof (in die rigting van die rivier) het hy ’n voertuig, ’n Ford, wat die beskrywing pas, opgemerk.
Hy het die registrasienommer vir een van die ander GPF-lede gestuur en gevra dat daar gereël moet word om die registrasienommer te toets.
Na ’n paar sekondes het hy ’n entjie voor die voertuig gestop, maar gesien hulle raak agterdogtig en kyk vir hom, waarop hy in die omgewing rondgery het.
“Ek het geweet die rowers is gewapen en wou nie die kans waag om hulle te konfronteer nie.”
Die oomblik toe hy laat weet word dat dit ’n vervalsde registrasienommer is, het hy weer direk soontoe gejaag, maar die voertuig was reeds weg.
Hy is oortuig daarvan dat dit die rowers was.
•Daar is navraag gedoen by die spreekkamer, maar hulle wil nie op hierdie stadium geïdentifiseer word nie.
“Ons is net dankbaar die Here het almal beskerm,” is gesê.
