Vier in hof vir moord op bejaardes – gemeenskap betoog
Gemeenskapslede het opgeruk na die Carolina Landdroshof waar vier mans vir die moord op ’n bejaarde egpaar verskyn.
Leonore Steenkamp (64) en Renier Lense (83) se liggame is Dinsdagoggend in hul woonstel in Voortrekkerstraat, Carolina, ontdek nadat hul bure onraad vermoed en die polisie ontbied het.
Die egpaar se blou Toyota Corolla is Sondag, 20 Februarie, verlate op die Chrissiesmeerpad ontdek. Die polisie kon egter nie dadelik die eienaars opspoor nie, omdat die geregistreerde adres verouderd was.
Volgens nuwe inligting blyk dit dat die egpaar met pangas vermoor is.
Vier verdagtes is dieselfde dag gearresteer in verband met die moord.
Bennie van Heerden, wat familie van me. Steenkamp is, sê dat hulle gehoor het dat Nigeriese dwelmhandelaars op een of ander manier met die misdaad verbind word.
Die vier mans verskyn vandag in die hof.
Gemeenskapslede het buite die hof betoog en gesing “No bail, no crime!” asook “Crime has no colour!”.
Die name van die verdagtes is nog nie bekend nie.
