Joernaliste van www.mobserver.co.za het al gaan soek na die “ou oom” wat altyd op dieselfde plek sit. Die spook van Langkloof wat glo by ’n rooi klip keelaf gesny is.
Alhoewel ’n mens kriewelrig gevoel het in die donker, kon ons niks sien nie.
Nou gaan die span van “Phoenix Paranormal South Africa” volgende naweek in tente by die huis slaap om te kyk of hul elektroniese toerusting enige abnormaliteite optel.
Charmain Roos, wat deel is van die groep, sê hulle is in Pretoria gesetel en en het deur die jare net paranormal ondersoeke gedoen het in Gauteng, waar hulle al paranormale aktiwiteite in verskeie ou geboue en hospitale gekry het.
Langkloof is die derde plek in Mpumalanga wat hulle besoek om te kyk of daar enige waarheid steek in die stories wat talle mense al vertel het van die spook van Langkloof.
Phoenix werk deur die nag, om te kyk of daar enige paranormale aktiwiteite is.
Hulle gaan vroeër die dag deurkom en plekke besoek waar inwoners al spoke of geeste gesien het.
•Langkloof is buite Middelburg op die N11 geleë en het voorheen bekend gestaan as die Laventelboom Vakansieplaas.
Die plaas behoort aan generaal Koos van Zyl. Sy skoondogter, Marinda van Zyl, vertel dat plaaswerkers nie naby die ou opstal wil gaan nie.
Die huis staan verlate op generaal Van Zyl se plaas en is besig om te verval.
Buiten die werkers, het daar eenkeer ’n vriend gekuier op die plaas, wat vir hulle gesê het dat hy die spook gesien het.
Die man het “met die spook gaan praat. Die spook het vertel dat hy by ‘n rooi klip oorval en doodgemaak is. Sy keel is afgesny. Sy vrou is ook vermoor.”
Die man het vir die spook gevra of hy ’n “vyandige gees’ is, maar dit lyk nie so nie, want die spook het net vir die man gesê hy kry nie rus nie, want sy moordenaars se familie bly nog in die omgewing.”
Daar is drie klippe op die plaas met ’n rooi skynsel.
Vyf jaar later het nog ’n besoeker vertel dat hy ’n man op die stoepgedeelte van die plaas sien sit het.
Die familie wil graag meer oor die geskiedenis van die plaas te wete kom en het al rondgevra of daar nie mense is wat staaltjies of ander verhale oor die plaas het nie.
•Met hul eie navorsing het hulle afgekom op ’n webtuiste: “British Concentration Camps of the South African War 1900-1902” wat aangedui het dat Langkloof ’n noue verbintenis met die Anglo Boere-oorlog gehad het.
Hulle het ook ander webtuistes gevind wat ’n aanduiding gee dat dié plaas ’n wegsteekplek was vir vroue en kinders in die Anglo Boere-oorlog.
Mense wat meer inligting het oor die plaas, kan me. Van Zyl bel by 063 057 0996.
•Vir meer inligting oor “Phoenix Paranormal South Africa”, gaan besoek gerus hul Facebookblad met dieselfde naam.