Dorp vernietig, inwoners het genoeg gehad
Middelburg, Dorp van die Jaar 2015, is vir die tweede keer binne maande deur stakende munisipale werkers van modeldorp na varkhok verander.
Maar nou het inwoners genoeg gehad en ’n streep in die sand getrek.
Die Middelburg Kamer van Koophandel het gister ’n ultimatum aan die Steve Tshwete Munisipaliteit gestel om dienste te herstel of hulle gaan hof toe.
Vanaand ruk inwoners om 18:00 na Kees Taljaard Stadion op, met ’n boodskap van “Genoeg is Genoeg”.
Die eens netjiese dorp, wat gespog het dat daar geen slaggate is nie, skoon water, gereelde vullisverwydering en betroubare elektrisiteit, het binne drie weke so erg verval, dat dit besig is om in ’n humanitêre krisis te ontaard.
Die stakende werkers, wat vir drie maande gedrink en gebraai het tydens die vorige staking, sit al vir drie weke langs die burgersentrum besig om te doen wat hulle die beste doen, partytjie hou.
Vier werkers is verlede week gearresteer en is op borg vrygelaat. Daar was al ’n ongeluk waar van die werkers in die nagtelike ure in ’n ongeluk was op pad terug van hulle daaglikse partytjie.
Die tragedie is dat die paar werkers wat die dorp nog aan die gang hou, soos die ander werkers, nog nie die maand betaal is nie.
Intussen word kragbokse gesaboteer, die rioolnetwerk beskadig en gisteraand is bokse in Gholfsig afgegooi.
Van die dorp se fietsryers het die gemors vroegoggend opgeruim.
Twee steenkool vragmotors is al gekaap en in een geval is die vrag in een van die die dorp se besigste strate afgegooi om maksimum verkeersontwrigting te veroorsaak.
In Proteastraat loop water al vir dae soos ’n rivier en die reuse slaggate veroorsaak dat karre moet stop, om deur die gate te ry.
Sommige inwoners is al ses dae sonder elektrisiteit.
Die Dennesig en Kanonkop woonbuurtes se krag van vroegoggend af en na dreigemente deur stakende werkers, het die totale werksmag, wat die elektristeit moes herstel, onttrek.
Sekuriteitsbeamptes wat die werkers moes oppas het ook onttrek. Daar word verneem dat die probleem olie in een van die kabels is.
Die ontrekking van die werksmag beteken dat die woonbuurtes vir ure of selfs dae sonder elektrisiteit kan wees. Intussen skuif die stakers elke keer die doelpale en dit is duidelik dat dit nie oor hulle eise gaan nie, maar hulle wil net nie werk nie en aanhou om die dorp te vernietig en partytjie te hou.
Inwoners sê die stakers werk nie, hou partytjie en is boonop vergoed.
Die stadsraad word ook van lamsakkigheid beskuldig, omdat hulle na vier maande nog nie die krisis beredder het nie. Nadat daar aan al hulle eise voldoen is en advokaat Bheki Khenisa bedank het, het hulle gisteraand aangekondig dat hulle tot 1 April gaan staak indien advokaat Khenisa sy kennismaand van sy kantoor af werk.
’n Walglike stank hang oor die sakekern, die strate is ’n rommelhoop en die rioolwerke versprei ’n reuk wat tot by Dennesig geruik kan word.
Intussen partytjie die munisipale werkers voort, terwyl die dorp vergaan…
