Koeëlvaste baadjie en dwelms gekry na jaagtog
’n Man is Dinsdag in die vroeë oggendure vasgetrek, nadat skrootmetaal van duisende rande by ’n erf in die industriële gebied gesteel is.
Mid Alarms reaksie-offisier, Jan van Staden, sê daar het kort na 04:00 ’n panieksein deurgekom uit die industriële area en hy het soontoe gejaag.
Die oomblik toe hy op die perseel kom, het die sekuriteitswagte beduie na ’n voertuig wat oorkant die pad staan. Hulle het gesê die persone in die voertuig het toerusting van masjinerie op die erf gesteel.
Voordat hy die verdagtes kon konfronteer, het die voertuig weggejaag en hy is agterna.

Hy het die kar gevolg tot in Wesstraat waar dit ingetrek het by ’n woonstelkompleks. Op daardie stadium is die polisie reeds verwittig en is Jan saam met hulle by die perseel in.
Die bestuurder van die voertuig, asook ’n 18-jarige jongman, is ondervra en die voertuig deursoek. In die voertuig is die toerusting (wat as skrootmetaal verkoop sou word), asook ’n byl en messe gevind.
Die kar waarmee die mans gery het, het vervalsde nommerplate gehad.
Jan meld dat hulle op daardie stadium skofte geruil het en sy kollega, reaksie-offisier Ruan Cloete, het na die toneel gekom. Ruan het dadelik die een verdagte herken as dieselfde man wat onlangs vasgetrek is.
“Tydens sy vorige arrestasie het ons ’n polisie koeëlvaste baadjie, lewendige en leë koeëldoppies gekry. Daar is ook dwelms by hom gekry. Ek weet nie wat van sy vorige sake geword het nie.”

•Die man wat die voertuig bestuur het, is gearresteer en was in aanhoudig tot met sy verskyning Woensdag. Teen druktyd het hy nog nie in die hof verskyn nie en mag sy naam nie gebruik word nie.
Daar is vir die joernalis gesê dat die verdagte die meeste van die tyd in sy kar slaap.
•Die agttienjarige man wat saam met hom in die voertuig was, is laat gaan. Hy het op die toneel gesê dat hy net saam met die verdagte gery het en nie geweet het dat daar toerusting gesteel gaan word nie.
