News

Man vertel ‘wat regtig gebeur het’

Cornelius de Vaal (27), die jong man wat Woensdag in die hof verskyn het op ’n klagte van diefstal, het besluit om met te praat “oor wat regtig gebeur het”.

Cornelius is aangekla vir diefstal nadat daar artikels wat op masjinerie gebruik word, in sy kar gekry is.

Volgens hom het hy en sy vriendin en sy 18-jarige vriend (hulle name word weerhou want hulle is nie aangekla nie) Maandagaand in sy kar gekuier en geslaap in die industriële gebied.

Cornelius doen kontrakwerk en sê hy bly in sy kar, want hy kan nie tans bekostig om op ’n ander plek te bly nie.
Cornelius sê hy doen herwinning vir ’n ekstra inkomste.

Kort nadat hulle wakker geword het, omstreeks 04:00, het die vriend vir hom gesê dat hy onlangs verby ’n Skippy-asblik in die industriële gebied gery het en artikels gesien het wat hulle kan herwin vir skrootmetaal.
Sy vriend het vir hom beduie waar dit was.

“Die Skippy-asblik was nie in die erf nie, maar het buite die perseel gestaan, op die sypaadjie, langs die pad.”

Hulle het die artikels wat in die asblik was in die kar gelaai en begin ry om sy meisie by haar ma se woonstel te gaan aflaai.

“Ek het beslis nie gejaag nie. Ek het wel die voertuig van Mid Alarms gesien, maar nie onraad vermoed nie en net aangehou ry tot by haar huis.”

By die woonstel het die meisie vir hulle koffie gemaak, toe ’n lid van Mid Alarms en die polisie opdaag en sê hulle wil sy voertuig deursoek.

Hy het vir hulle vertel dat hulle dit uit die Skippie-asblik gehaal en dat hy dit sal gaan terugsit as dit hom in die moeilikheid kan bring. Daarna het die polisie gery.

Cornelius sê hy is deur ’n lid van Mid Alarms teruggeneem na die asblik en wou dit terugsit, maar daar is vir hom gesê om te wag vir die eienaar van die perseel om te kom.

Die sekuriteitswagte wat die paniekknoppie gedruk het om Mid Alarms te ontbied, was ongemaklik daaroor dat Cornelius ongeboei sit en wag en het Cornelius toegelaat dat hulle hom boei.

Met die eienaar se aankoms het hy gesê dat die artikels wat uit die Skippy uitgehaal is nie veel werd is nie, maar dat hy ’n saak sal maak, omdat sy sekuriteitsmense dit van hom verwag.
Die polisie is weer ontbied, waarna Cornelius gearresteer en polisiestasie toe geneem is.

“Die man het by die polisiestasie gesê dat die artikels wat ons uit die asblik gehaal het, nie meer as R150 rand werd is nie. Dit is beslis nie duisende rande werd nie.”

Cornelius het die nag in die selle deurgebring en het Woensdagoggend in die hof verskyn. Borg van R300 is toegestaan op die diefstalklagte. Die saak is uitgestel na later hierdie maand vir verdere ondersoek.

•Cornelius, sy vriend en sy vriendin is in Januarie ook beskuldig dat hulle skrootmetaal en kabels gesteel het.

’n GPF-lid het hulle in Kogelstraat gekry en daarop gewys dat daar skrootmetaal en kabels in die kar is en die polisie is ontbied.

Met ondersoeking is daar buiten die kabels, ook twee sakkies dwelms, lewendige rondtes ammunisie en ’n koeëlvaste baadjie, wat die polisie gebruik, in die kar gekry.

Cornelius sê hy het die ou koeëlvaste baadjie kort vantevore by die Gwarriegat in die veld opgetel en het hulle dit by die polisie gerapporteer.

Volgens hom het die polisie gesê dit is ou toerusting en dat hulle dit moes verbrand.

“Ons het op daardie stadium net nog nie tyd gehad om dit te brand nie.”

•Hy sê die drade wat in die kar destyds gekry is, het hulle gekry by ’n ou oom in Mineralia wat gebou het.

•Ten opsigte van die dwelms wat tydens die vorige voorval ook in die voertuig gekry is, het hy erken dat dit Kristal Metamfetamien was en dat hulle almal gebruikers was.

“Ons al drie is sedertdien skoon. Dit verwoes ’n mens se lewe.”

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button