Bekende makelaar is tuis na “hartstilstand”
Coen Bester (64) is tuis en alhoewel hy nog baie moeg is, is sy gesin dankbaar dat hy nou by die huis kan aansterk.
Mnr. Bester, finansiële adviseur en makelaar by Walta Finansiële Dienste, het sowat twee weke gelede gegaan vir ’n prosedure by die Pretoria Oos Hospitaal.
Sy vrou, Emma, vertel dat alhoewel dokters gedink het dat hy ’n hartaanval gehad het, blyk dit nou dat dit nie ’n hartaanval was nie.
“Ons huisdokter het gister nog toetse gedoen en as hulle niks kry nie, sal ons hom na ’n internis neem. Iets het gebeur soos ’n hartstilstand, maar ons weet steeds nie wat dit was of wat dit veroorsaak het nie.”
Me. Bester sê haar man het na die prosedure bygekom en was besig om koffie te drink, toe hy inmekaar sak.
“Gelukkig was die dokter by hom en het hulle hom dadelik in die intensiewe eenheid van dié hospitaal opgeneem.”
Omdat die Pretoria Oos Hospitaal nie ’n hartspesialis daar het nie, is daar aanvanklik besluit om hom Unitas Hospitaal toe te stuur, maar is daar uiteindelik besluit op die Wilgers Hospitaal. By die Wilgers Hospitaal is ’n angiogram gedoen, maar kon die dokter nie enige ernstige probleme met sy hart vind nie.
Mnr. Bester is Saterdag ontslaan.
•Die egpaar wil graag almal bedank wat hulle in hierdie tyd ondersteun het met boodskappe en oproepe en ook dié wat Coen in die hospitaal besoek het. “Spesiale dankie aan Emely, Kristi en Coenie vir jul hulp en bystand. Ons kon nie vir wonderliker kinders gevra het nie.”
•Emely woon en werk in Holland en was by haar ouers vir die Desembervakansie. Net etlike dae voor haar pa siek geword het, het sy teruggevlieg Holland toe.
Die oomblik toe sy verneem dat hy siek is, het sy op die eerste vliegtuig wat sy kon kry, gespring en teruggevlieg na Suid-Afrika om saam met haar broer en suster haar ouers te kom ondersteun.
