Eienaar van swart BMW gesoek: “Ek het gewag om in straat doodgeskiet te word”
Met die koue loop van ’n wapen teen sy bors, het ’n man gevrees dat hy in ’n straat doodgeskiet gaan word.
Boonop sê hy dat die polisie geweier om ’n saak te open!
Mnr. Heinrich van Aswegen kan steeds nie glo wat Saterdagmiddag “helder oordag” om 18:30 gebeur het nie.
“Ek het gedink ek gaan net daar, voor my vrou, doodgeskiet word!”
Hy en sy vrou, Michelle, het van Kanonkop se kant af met sy motorfiets afgery dorp se kant toe ,in Lilian Ngoyistraat.
Mnr. Van Aswegen het spoed verminder by die spoedwal oorkant die Kees Taljaard Stadion. Hy was nog besig om stadiger te ry “toe ’n swart BMW op my afgejaag kom. Hy het só vinnig op my afgejaag dat hy byna aan my agterwiel geraak het.”
Mnr. Van Aswegen was nie lus vir konfrontasie met die persoon nie en het na die spoedwal in die regterbaan inbeweeg en vinniger gery.
“Hy het egter in die linkerbaan langs my ingejaag en oorgeswenk sodat ek in die aankomende verkeer moes inry. Gelukkig was die voertuig wat aangekom het ’n klein entjie verder en ek kon weer teruggaan in my baan.”
Die BMW het egter weer probeer om hom voor aankomende verkeer in te druk.
Terwyl mnr. Van Aswegen die BMW probeer vermy het, het hy ’n oomblik teruggekyk en gesien dat daar langs die bestuurder van die BMW ’n vrou sit en ’n kleuter op die agterste sitplek staan.
Die verkeerslig op die hoek van Lilian Ngoyi- en Beyers Naudestraat was rooi en mnr. Van Aswegen het gestop. Hy het afgeklim van sy motorfiets af om die man te gaan vra waarom hy so aggressief teenoor hom optree.
Me. Van Aswegen wou saamstap, maar hy het vir haar gesê om by die motorfiets te wag. Die man van die BMW het ook uit die voertuig gespring.
“Hy het sy regterhand agter sy rug gehad en toe ons so drie meter van mekaar af is, het hy die 9mm pistool na vore gebring, dit oorgehaal en dit teen my bors kom druk. Hy het sy linkerhand se vinger in my oog gedruk.”
Mnr. Van Aswegen het magteloos bly staan met die wapen teen sy bors.
“Hy het vir my geskree: ‘what are you going to do? Ek het vir hom gesê: ‘you are driving like an idiot with your wife and child with you in the car.’ Hy was so aggressief dat ek gewag het vir die skoot om te klap.”
Me. Van Aswegen het haar boeglam geskrik, toe sy sien die man haal sy wapen uit en het begin soek na haar selfoon om dit af te neem.
Die vrou in die BMW het gesien me. Van Aswegen soek haar selfoon. Sy het uitgespring en het op dieselfde oomblik wat me. Van Aswegen uiteindelik haar selfoon kon aanskakel, haar man begin wegtrek van mnr. Van Aswegen af.
“My vrou het van angstigheid in daardie breukdeel van sekondes nie die gedeelte opgeneem gekry met die wapen nog teen my bors nie. Sy was ook bang hy gaan my skiet.”

Die ander man het saam met sy vrou in die BMW gespring “en oor die rooi lig gery en regs gedraai in Beyers Naudestraat.”
Terwyl mnr. Van Aswegen terug geklim het op sy motorfiets, het daar ’n Fortuner by die verkeerslig gestop. Die persoon het gevra of alles reg is en gery.
Die egpaar is vandaar polisiestasie toe, maar nog ’n skok het op hulle gewag.
“Die polisievrou was glad nie behulpsaam nie.”
Mnr. Van Aswegen het aan haar probeer verduidelik wat gebeur het. Sy het gevra of hulle bewyse het en mnr. Van Aswegen het gesê dat sy vrou net ’n gedeelte van die voorval op video kon kry.
Me. Van Aswegen het wel ’n foto van die man geneem en hulle het dit gewys. Die wapen kan duidelik in sy hand gesien word.
Mnr. Van Aswegen sê hierop het die polisievrou gevra of hulle ’n registrasienommer het. Die videomateriaal was egter te swak en net ’n gedeelte van die registrasienommer kon uitgemaak word.
https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/155373/swart-kar-gesien-voor-mans-trok-stop/
“Die polisievrou het weg geloop, terug gekom en gesê sy kry niks op die stelsel met so ’n registrasienommer nie. Ook dat ek maar verkeersdepartement toe moet gaan om te kyk of ek kan regkom om die skuldige op te spoor.”
Hy het gevra of hy ’n saak van rig van ’n vuurwapen kan oopmaak, maar sy het geweier.
“Dis tog rig van ’n vuurwapen! En hy het my voor aankomende verkeer probeer indruk! Ek het dit net daar verloor en vir die polisievrou gesê dit is hoekom die land in so ’n toestand is, want die polisie wil nie eers hul werk doen nie.”
Mnr. Van Aswegen het haar gevra of hy dan nie ’n dokument kan invul wat sê dat hy wel daar was en ’n saak wou open nie.
“Sy het gesê ek kan as ek wil, maar my verder geïgnoreer. Nadat ons hoe lank daar gewag het dat sy vir ons ’n dokument of papier moet gee dat ons dit kan aanmeld, het ons besef ons gaan nie hulp kry nie en maar gery.”
•Mnr. Van Aswegen glo die persoon wat in die Fortuner was, het moontlik gesien wat gebeur. Hy vra dat die persoon www.mobserver.co.za (013 243 1434, Daleen Naude) moet bel. Ter wille van hul veiligheid wil hy nie hul persoonlike nommers gee nie.
Hy is ook seker dat die kameras by die vulstasie die gebeure opgeneem het en dat ’n mens sal kan sien waar die BMW draai en sy volle registrasiebesonderhede sal kan sien.
“Sonder die polisie se hulp, sal ek egter waarskynlik nie die videomateriaal mag kry nie!” het hy moedeloos uitgeroep.
•Die kwessie is onder die aandag van brig. Selvy Mohlala (mediawoordvoerder van die polisie se provinsiale kantoor) gebring. Hy het gesê hy sal met die stasiebevelvoerder oor die aangeleentheid praat en terugkom na die joernalis met ’n antwoord.
•Interessant om te meld dat daar sowat drie weke gelede by twee geleenthede in die aand vragmotorbestuurders by verkeersligte oorval is deur ’n groep wat in ’n swart voertuig gery het.
Die eerste geval was in Walter Sisulustraat en etlike dae later op die hoeke van Protea- en Springbokstraat.
Die vragmotorbestuurders het gesê die mans was met handwapens gewapen en het gesê hulle moet hul vragte in die pad afgooi.
Tydens die voorval in Walter Sisulustraat is die trok net dwars oor die pad getrek, maar voordat die vrag uitgegooi kon word, het voertuie begin opdaag en het die swart voertuig weg gejaag.
Minute voordat dit gebeur het, is ’n swart voertuig voor die brandweer se deure opgemerk. Die voertuig was so geparkeer dat die brandweervoertuie nie sou kon uitkom nie.
Met die gebeure op die hoek van Protea- en Springbokstraat is die vrag steenkool egter wel op die pad uitgekeer.
Almal het tereg gevra wie dié saboteurs was.
https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/155278/wie-sit-agter-hierdie-sabotasie-van-ons-dorp/
