Ons spoor man met wapen op
Die Middelburg polisie gaan more-oggend mnr. Heinrich van Aswegen se verklaring neem!
Vyf minute nadat die provinsiale mediakantoor mnr. Van Aswegen se nommer aangevra het by ’n www.mobserver.co.za joernalis, het mnr. Van Aswegen laat weet dat hulle hom gekontak het en dat hulle ’n afspraak met hom gemaak het vir more-oggend.
’n Swart BMW het mnr. Van Aswegen se motorfiets byna van die pad af gedwing in Lilian Ngoyistraat Saterdag vroegaand.
Die oomblik toe hy stop om die persoon te vra waarom hy dit doen, het die bestuurder van die BMW uitgespring en ’n 9mm pistool op mnr. Van Aswegen gerig. Mnr. Van Aswegen het gedink hy gaan in die straat doodgeskiet word.
Hy wou ’n saak van onder andere rig van vuurwapen gaan open by die Middelburg Polisiestasie, maar die vrou agter die toonbank wou nie sy verklaring neem nie.
Lees ook: Eienaar van swart BMW gesoek: “Ek het gewag om in straat doodgeskiet te word”
Selfs nie eers nadat hy ’n video, wat duidelik wys dat die man ’n wapen in sy hand het, vir haar gewys het nie. Op die video is die BMW ook duidelik sigbaar en het sy vir hom gesê om verkeersdepartement toe te gaan om te kyk of hulle hom dalk kan help.
Mnr. Van Aswegen het vir www.mobserver.co.za van die gebeure vertel en het ons die provinsiale mediakantoor oor die aangeleentheid gepols.
Brig. Selvy Mohlala het gesê dat hy die kwessie met die stasiebevelvoerder sal opneem en het laat vanmiddag mnr. Van Aswegen se nommer gevra.
•Www.mobserver.co.za het ook ons eie ondersoek vandag gedoen.
Die BMW, wat ’n GP registrasienommer op gehad het, is afkomstig van Crystal Park, Benoni. Ons kan nie die eienaar se naam op hierdie stadium bekend maak nie, aangesien daar ’n moontlike ondersoek kom na aanleiding van die gebeure.
