’n Spook het gelag en ’n stem het ‘help my!’ gesê toe “Phoenix Paranormal South Africa” ’n murasie op die plaas gaan verken het.
Daar is beslis “iets” in die huis, het die span bepaal.
Alhoewel hulle steeds besig is om na videomateriaal van hul besoek na te gaan, het Wynand van Zyl, so bietjie vertel van wat gebeur het.
Die groep mans het die naweek tent opgeslaan langs die ou huis, waar talle mense al sê dat hulle ’n “ou oom” op die stoep sien sit het en ander mense “dinge” in die huis gehoor het.
Wynand sê die span los mekaar gewoonlik af as hulle ’n ondersoek doen, maar hulle was meeste van die tyd maar wakker. Buiten hul soektog na enige paranormale aktiwiteite in en om die huis, moes hulle ook buite rondkyk, aangesien generaal Koos van Zyl (eienaar van die grond) vir hulle gesê het dat daar ’n luiperd op die plaas rondloop.
Wynand is met sy kamera in die spensgedeelte van die huis in om te kyk of hy enige vreemde geluide of stemme kan opneem. Die ander was elders in die huis besig.

Hy het in Engels gevra of daar enige iemand saam met hom is. Hy het gevoel daar is “iets” en later toe hulle die klankbaan nagaan, kon hulle duidelik hoor hoe iets sê: “demon”.
Soos hulle deur die huis geloop en gevra het of daar iemand is, het die hele span duidelik gehoor hoe iemand: “help” sê.
Met die opgeneemde klankbaan kon hulle egter later hoor hoe ’n stem in Afrikaans die woorde “help my” uiter.
“Twee verskillende spanne het die nag ook duidelik Afrika dromme in die huis gehoor.” Hy weet nie hoekom hulle dit spesifiek gehoor het nie.
https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/155883/gaan-die-spook-van-langkloof-gesig-wys/
Hulle gebruik gewoonlik ’n “spirit box”, ’n tipe mikrofoon wat fyn paranormale klanke opneem, maar hy sê dit het egter baie ander radiofrekwensies in die omgewing opgeneem.
Hy vertel dat daar baie perdebye in en om die huis is. Een van die spanlede, Jannie van Rooyen, is deur ’n perdeby gesteek en toe hy rondspring kon hy duidelik hoor hoe ’n “ou oom” vir hom lag.
Hulle neem maar aan dis die “oom” wat baie mense al op die stoep sien sit het.
Wat die mans totaal dronkgeslaan het, is die toegebinde sakkie “wat daar tussen nêrens in die oopte gelê het.” Wynand sê hierdie tipe sakkies word “Hex bags¨ genoem.

“Dit word gewoonlik deur toordokters gemaak met bene of kruie in om iemand te curse (vloek uit te spreek) of vir beveiliging.”
Hy meld dat ’n deurskynende kunsmissakkie gebruik is en dat daar iets binne-in was. “Ons het nie daaraan geraak nie. Ons het dit net afgeneem.”
Die span het onderneem om die finale video vir www.mobserver.co.za beskikbaar sal stel, sodra dit voltooi is.
•Al die meegaande foto’s is deur die span self geneem.
•Vir meer inligting oor “Phoenix Paranormal South Africa”, gaan besoek gerus hul Facebookblad met dieselfde naam.





