News

Selfoondief jaag byna in man vas – jaagtog tot by padkamp

’n Selfoondief het probeer om ’n man by ’n kleuterskool raak te ry, in ’n ander kar vasgejaag en ook ’n hek beskadig.

Hy het later sy erg beskadigde voertuig op ’n sypaadjie by die ou padkamp gelos, en in ’n taxi gespring.

Al dié gebeure het vanoggend plaasgevind by Kleuterskool Voetspoortjie.

Die afgelope drie dae het twee selfoondiewe toegeslaan by die kleuterskool en elke dag ’n selfoon uit ’n ouer se kar gesteel.

Die dief kom tussen die voertuie uitgestap nadat hy die selfoon gesteel het.

Me. Marlise McDonald (bestuurder van die skool) sê die booswigte het met ’n voertuig gekom en die vorige twee dae ’n kind van tussen 2-4 jaar by hulle gehad, dat dit moes lyk asof hulle ouers van die skool is.

CCTV videomateriaal is wel ’n hele entjie van die parkeerarea af, maar hulle kon sien dat die diewe Dinsdag en Woensdag afstandbeheerders gebruik om te keer dat die voertuie sluit, waar hulle die selfone steel.

Me. McDonald sê dat hulle gister die polisie gebel het en gevra het of hulle self die diewe kan vastrek en van hul personeel se mans het vanoggend plat in hul voertuie gelê om die diewe in te wag.

Hulle het nie lank gewag nie, of een van die diewe kom doodluiters daar aan en steel ’n selfoon uit ’n voertuig uit.

Een van die mans wat in sy voertuig gelê en wag het, het die dief afgeneem toe hy by sy kar verbyloop.

Die oomblik toe hy met die selfoon in sy hand agter die voertuig uitkom, het die mans uitgepring, maar die boef het soos ’n vasgekeerde dier opgetree.

Hy het in sy kar gespring en in trurat agteruit gejaag, en byna een van die mans getref. Die mans het intussen die hek probeer toedruk, maar hy het uitgeswaai, ’n vrou se kar gestamp en ook die hek getref.

Sy voertuig was erg beskadig, maar hy het aangehou voortjaag, met die mans in hul voertuie agterna, tot by die ou padkamp, sy kar net daar gelos en oor die drade gespring.

Die dief se kar het erge skade opgedoen toe hy in ’n ander kar vasgejaag en ook ’n hek getref het om te probeer wegkom.

Die ouer wie se selfoon gesteel is, se selfoon het nog in sy kar gelê, maar al haar persoonlike inligting is reeds van die selfoon af gevee.

•’n Diefstalsaak is by die polisie geopen en daar sal waarskynlik ook klagtes bygevoeg word oor die skade wat aangerig is.

•Me. McDonald wil graag ander kleuterskole en skole waarsku, aangesien beide mans nog op vrye voet is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Check Also
Close
Back to top button