News

Terwyl provinsie verrot gooi ANC geld rond asof dit van bome af kom

Die VF Plus steun nie die 2021/2022 begroting van Mpumalanga nie, omdat die begroting “op verekeerde prioriteite fokus” sê wetgewerslid Werner Weber.

Hy het sy mening onderskryf met die feit dat daar sedert 2011, meer as R300 miljoen bestee is aan twee “gedoemde” ontwikkelings.

Die eerste is die kulturele-kern ontwikkeling op Witrivier en die hoëprestasie sportsentrum op Belfast, met die grond wat aan beide ontwikkelings toegeken is maar steeds leegstaan.

“R70 miljoen word op die huidige begroting in die water gegooi met die hoëprestasie sportontwikkeling,” sê mnr. Weber en las by dat die regering gefaal het met die projekte, “wat bedoel was om Mpumalanga se ekonomie te stimuleer, werk te skep en die ontwikkeling van plaaslike talent en entrepreneurskap aan te moedig”.

Hy het die provinsie verder gekap oor die vermindering van die departement van gemeenskapsveiligheid se algehele begroting van R1.524 miljard tot R1.501 miljard.

“Dit is ’n stap in die verkeerde rigting om die veiligheid van Mpumalanga se inwoners te verseker en toesig te hou oor die provinsie se polisie en wetstoepassingsagentskappe”.

Die provinsie is tans derde op die nasionale toerismebestemmingranglys, “en om die departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme se begroting van R1.637 miljard tot R1.498 miljard te verminder, spreek boekdele oor die ANC se insig en bestuursvermoeë”.

Mnr. Weber meen plaaslike natuurreservate se infrastruktuur het onder ANC-bestuur “totaal verval”. Hy sê selfs wild is nie meer te siene nie, en dat die begrote R50 miljoen vir die opgradering van Mpumalanga se reservate, te min is om die mark en die provinsie se derdeplek op die ranglys, volhoubaar te maak.

“Die bykomende R43 miljoen wat aan die departement van openbare werke, paaie en vervoer toegeken is vir die herstel van die provinsie se padnetwerke, is welkom,” sê mnr. Weber, maar maan “dit is tog nog ’n druppel in die emmer is ag genome die toestand van die paaie en skade wat met verlede jaar se storms en vloede aangerig is”.

Mnr. Weber sê die provinsie sal nooit sy volle potensiaal bereik, solank as wat die ANC in beheer is en belastingbetalersgeld wanbestee en korrupsie ooglopend toegelaat word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button