Man steeds in hospitaal nadat ‘iets’ in water na Mosambiekse sikloon sy been beseer
Kort na die sikloon in Mosambiek het iets in die water van die oostromings ’n besering aan Herman Jansen van Vuuren se been veroorsaak en is hy oorgevlieg Suid-Afrika toe, waar hy steeds in ’n intensiewe eenheid van ’n hospitaal behandel word.
Mnr. Jansen van Vuuren se vrou, Marietjie, het hierdie week vertel dat hy al ’n maand in die intensiewe eenheid van die Netcare Sunninghill Hospitaal behandel word.

Hulle weet nie wat die besering aan die binnekant van sy been by sy kuit veroorsaak het nie. Sy het gemeld dat dit enigiets van ’n slangbyt tot ’n stukkende plek kan wees, wat ’n bakteriële infeksie gekry het weens die vuil water van die oostromings. Hy het vroeër vanjaar nog vir haar ’n video gestuur van dié tropiese storm gestuur, wat ook die Tete Provinsie getref het.

Mnr. Jansen van Vuuren werk die afgelope sewe jaar in Mosambiek en het vir haar laat weet dat hulle ontruim en na veiligheid geneem is.
’n Paar dae later kon hulle terugkeer na hul huise, maar het hulle kniediep in die modderwater geloop om skoon te maak. In hierdie tyd het hy begin kla van pyn in sy been en is hy na ’n dokter. Hy is in die Tete Hospitaal opgeneem en die volgende dag na Suid-Afrika gevlieg waar hy sedertdien in die Sunninghill Hospitaal is.
Die infeksie het ook sy niere aangetas en kry hy dialise behandeling. •Die meegaande foto’s en video wys hoe erg die storm en die oostromings was.
•Mnr. Jansen van Vuuren was aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel tot laat verlede week.
•Hy het vir jare by Optimum gewerk en is Mosambiek toe nadat dié myn gesluit het. Sy familie is steeds in Middelburg woonagtig.
