Rowers wat dokters spreekkamers beroof het, slaan weer toe
'n Bekende eiendomsagentskap in die Sentrale Sakegebied is vanmiddag kort na 14:00 beroof.
Alle aanduidings is dat dit moontlik dieselfde groep rowers was wat sowat twee weke gelede toegeslaan het op dokters se spreekkamers, wat ook in die Sentrale Sakegebied geleë is. Lees berig hier
Daar het ‘n wit voertuig voor die besigheid gestop en het drie van die boewe ingegaan. Hulle het hulle voorgedoen as kliënte.
Die oomblik toe hulle binne is, is wapens uitgepluk en het die groep dadelik kontant geëis. Die werknemers het gesê daar is nie kontant op die perseel nie, waarop hulle almal se selfone en ook juwele gevat het.
Die rowers se makker wat in die kar gewag het, het op ‘n stadium by die groep in die besigheid aangesluit en gehelp om die buit bymekaar te maak.
Net voor hulle by die deur uit is, is een van die vroue se selfoon vir haar teruggegee.
Hulle het gevlug in ‘n wit voertuig, wat gelyk het soos ‘n VW Polo.
Mid Alarms reaksie-offisiere Beneen Groenewald en Bennie Landman, asook die polisie was binne minute op die toneel.
Die polisie is nog besig op die perseel om met die slagoffers te praat en die toneel te fynkam vir leidrade.

