Ooggetuies vertel wat gebeur het waar man se oog onherstelbaar beseer is met glas
Twee ooggetuies het na vore gekom na aanleiding van die gebeure Vrydagnag waar Dirk Kotze (40) met 'n glas in die gesig geslaan is en sy oog verwyder moet word.
‘n Familielid het ook laat weet dat sy oog nie gister verwyder is nie, maar dat die operasie vandag gedoen sal word.
Mnr. Kotze word in die Millpark Hospitaal behandel.
“Dirk sal nooit weer dieselfde wees nie. Sy lewe is verwoes. Jy moet die skanderings sien. Daar is niks oor van sy oog nie!” het die familielid, wat anoniem wil bly, vanoggend gesê.
Daar is genoem dat die glas waarmee hy in die gesig geslaan is, sy oog tot in die oogkas beskadig het en dat daar geen hoop was om dit te herstel nie.
Twee ooggetuies, ‘n man en ‘n vrou het vanoggend vir www.mobserver.co.za gekontak en gesê hulle sal vertel wat gebeur het, mits die joernalis hul anoniem hou.
- Die vrou het vertel dat daar twee vroue in die parkeerarea tussen die Engen Vulstasie en Nando’s staan en baklei het. Die parkeerarea is op die hoek van Cowen Ntuli- en Walter Sisulustraat in Middelburg.
“‘n Man het sommer die vroue begin rondstamp en ‘n ander man het die een wat die vroue gestamp het, geslaan.”
Sy onthou dat daar mense op hierdie tydstip uit die Hoofkantoor Kuierplek gekom het.
Sy het gesien hoe Dirk aangestap kom. “Hy het tussen die mans gaan staan om die bakleiery te stop. Die volgende oomblik het ons ‘n slag gehoor en Dirk het grond toe geval. Daar was so baie bloed!”
Volgens haar het “die outjie” en sy vriende, sy onthou hulle was so ongeveer vyf jongmense, in ‘n Jetta gespring en weg gery.
“Dirk het glad nie eers baklei nie! Dit was so onnodig!”
- “Dit het geklink asof die glas ontplof, so hard het hy Dirk in die gesig geslaan,” het die man gesê.
“Ek was die persoon wat daardie ander man met die vuis geslaan het wat die vrouens rondgestamp het. Dirk het nader gekom om ons almal te kalmeer. Hy was heeltemal kalm.”
Die man onthou dat hy omgedraai het.
“Ek het die geweldige slag gehoor en teruggedraai. Dirk het grond toe gesak en sy hemp oor sy gesig gedruk. Bloed het uit die oogwond gestroom en ‘n dam bloed het op die grond gevorm.”
Die man het vlugtig na die oogwond gekyk en vir hom gesê om dit toe te hou. Hy het ook vir Dirk se vriendin gevra om met hom Life Midmed Hospitaal toe te jaag.
Hy het rondgekyk waar die aanvaller is en gesien dat hy reeds in ‘n rooi Jetta gespring het.
“Sy maatjies het nog daar rondgehang en ek het vir hulle gesê hulle beter wegkom, want hulle gaan seerkry daar.”
Die groep jongmense het almal in die Jetta gespring en weg gery.
Die ooggetuie vertel verder dat hy ‘n rukkie later self ook hospitaal toe is om te gaan kyk hoe dit met Dirk gaan.
“Daar het ‘n knop in my keel gevorm toe ek Dirk daar sien lê. Sy hemp was deurdrenk van die bloed en ek het my hemp uitgetrek dat hy hom kan aantrek. Ek en Dirk is vriende. Hy het hierdie nie verdien nie. Hy het nog trots vir ons vertel van sy nuwe kar wat hy gekoop het!”
Die man het genoem dat hulle bekommerd is oor sy regteroog ook, aangesien daar glasstukkies uit dié oog ook verwyder moes word.
“Dit is poging tot moord! Ek sal gaan getuig wat daardie aand gebeur het!”
- Dirk se vriendin het hom self Saterdagoggend deurgevat na die Millpark Hospitaal.
- Www.mobserver het die naam van die jong man wat beskuldig word van die aanval op mnr. Kotze gekry. Sy naam mag egter nie genoem word op hierdie stadium nie, aangesien ons nog nie met hom gepraat het nie en omdat daar moontlik kriminele klagtes teen hom aanhangig gemaak gaan word.
- Ons het pas verneem dat die jongman in die hospitaal opgeneem is. Die rede vir die opname is nog onbekend.
