News

Grafiese inhoud: Lang pad na herstel lê voor vir man wat met glas geslaan is

Daar lê nog ’n lang pad van herstel voor vir Dirk Kotze (40) wat ’n ernstige oogbesering opgedoen het toe ’n jong man hom Vrydagnag met ’n glas in die oog geslaan het.

Sy broer, Dewald, sê hulle weet nog nie presies wat die dokter tydens die operasie gister gedoen het nie.

“Hulle het net vir ons gesê daar is te veel swelling om te kon aangaan en dat nog operasies sal volg. Die hele oog is klaarblyklik nog nie verwyder nie. Hulle moet ook aan die ooglede werk.”

Dewald sê dat hulle as gesin ’n geweldige traumatiese tyd beleef.

“Die spesialis het die skanderings vir my gewys wat hulle Saterdag van beide sy oë geneem het. Ek kon duidelik sy oog aan die regterkant sien. Waar die linkeroog moes wees, was daar net ’n gat.”

Na die skanderings is daar vir hulle gesê dat daar twee keuses is waaruit hulle moes besluit.

“Die spesialis het gesê hulle moet eers kyk wat binne aangaan. Of hulle gaan die oog heeltemal amputeer en vir hom ’n glasoog later gee, óf red wat te redde is, maar dan sal almal die skade kan sien en hulle weet nie of daar enige sig sal wees nie.”

Dewald sê gister se operasie het vier ure geduur. Hy weet nie wat tydens Vrydagnag in daardie parkeerarea gebeur het nie, maar die gebeure bly hom ry.

“Dirk het op ’n stadium aan die ruk gegaan van pyn met sy opname in die Millpark Hospitaal. Dis verskriklik.”

Dewald het genoem dat daar beslis kriminele en siviele aksies sal volg teen die persoon wat sy broer beseer het.

Lees ook: Ooggetuies vertel wat gebeur het waar man se oog onherstelbaar beseer is met glas

Www.mobserver.co.za het verneem dat die jong man wat daarvan beskuldig word dat hy Dirk met die glas in die oog geslaan het, in Bethal werk.

Daar is betroubaar vir ons gesê dat hy in ’n hospitaal opgeneem is en nog gister in die hospitaal was.

Die redes waarom hy opgeneem is, is nog onduidelik. Ons weet ook nie of hy nog in die hospitaal is nie.

•’n Paar mense het die joernalis al gekontak en gesê dat die 20-jarige jong man wat Dirk met die glas geslaan het, later gemeld het dat sy en sy vriende se “drankie gedokter is” en dat hy niks van die gebeure kon onthou nie.

“As julle daardie seun ken, sal julle besef dat hy heeltemal buite sy aard opgetree het. Ons glo hy het iets ingekry,” is gesê.

•’n Foto van hom, asook foto’s van sy Facebookblad is rondgestuur en is daar onder andere gesê: “kom ons maak hom famous!” Sy Facebookblad is intussen gesluit.

•Prokureur Josef van Eeden het bevestig dat hy optree vir die die jong man wat van die aanranding beskuldig word.

“Ek kan nie kommentaar lewer nie, omdat ek nog nie met hom gekonsulteer het nie.”

•Die jong man se naam kan nie genoem word nie, omdat hy nog nie aangekla is nie.

•Dirk is Vrydagnag met ’n glas in die gesig geslaan in die parkeerarea tussen die Engen Vulstasie en Nando’s op die hoek van Cowen Ntuli- en Walter Sisulustraat. Hy het ’n geveg uitmekaar probeer maak, waarna hy in die gesig met die glas gemoker is.

•Alhoewel die foto skokkend is, word dit gebruik om die gevolge van so aanval duidelik te wys. Vier inwoners van Middelburg se oë is al op soortgelyke wyse uitgesteek.

Bloedige gevegte is ook aan die orde van die dag op die dorp wat ’n tendens wys van jong mans wat van kuierplek na kuierplek gaan, met die uitsluitlike doel om te baklei.

•In dieselfde omgewing, waar die glasaanval was, is ’n jong inwoner ’n paar jaar gelede doodgeslaan.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Check Also
Close
Back to top button