Boet en Wagter boet met hulle lewens
Die boosdoeners wat honde voor die voet vergiftig, het Maandag in die vroeë oggendure in Kogelstraat (Groenkol) toegeslaan en vanoggend ook in Koperstraat ’n hond gif gegee.
“Dit is so jammer dat Beer en Wagter met hul lewens moes boet,” het ’n omgekrapte mnr. Martin van Dyk vanoggend gesê. Hy het sy twee pragtige boerboele omstreeks 06:00 dood in sy erf gekry.
“Hulle het probeer inkom, maar ek het ekstra versterkings op my hek en ander veiligheidsmaatreëls aangebring. Dit is nou die derde keer in 10 jaar dat hulle ons honde vergiftig. Ons sal nou maar sonder honde moet klaarkom. Ek sal nou net nóg ’n beter tronk moet bou!” het mnr. Van Dyk moedeloos gesê.
Lees ook: Boewe gebruik nie net Temik gif maar glasstukke om honde dood te maak
•Die honde in Koperstraat is ook vanoggend in die vroeë oggendure vergiftig.
•Presies ’n maand gelede is honde in Aerorand doodgemaak deur hulle vleis met glas in te gee.
•Deur die jare is daar al letterlik honderde honde in Middelburg vergiftig en daar het gewoonlik diefstalle van motorfietse of inbrake daarna gevolg.
In die meeste gevalle is die gevreesde Temik, ook Two Step-gif genoem weens sy vinnige werking, gebruik.
