Kabeldiewe teiken Telkom toring neffens FET Kollege
Daar is gisteraand omstreeks 20:00 toegeslaan by die Telkom netwerk-toring op die hoeke van Brug- en Bonckerstraat.

Die toring is geleë waar die strate saamsmelt in die skerp draai op pad na 4SAI.
’n Motoris wat daar verby gery het, het flitsligte gesien rondbeweeg in die omheinde toring.
Die motoris het die wenk op die GPF Sektor 1 groep gedeel waarna lede van Sektor 1 GPF hulle na die toneel gehaas het. Daar gekom, het hulle gevind dat die booswigte net een paneel kon oopbreek waar verskeie kabels gesteel is.
Hulle het begin om ’n tweede paneel oop te breek, maar is gesteur en het op die vlug geslaan.
Soeke na hulle in die omliggende veld kon niks oplewer nie.
’n Handskoen en verskeie stroombrekers wat uit die paneel verwyder is, is op die grond gevind.
Die boewe het toegang deur ’n stuk gebreekte palissade-heining gekry, waarna hulle ook die heining om die toring deurgeknip het.
