Inwoners raadop nadat lisensiekantore deure sluit
Belfast, Dullstroom en Machadodorp se lisensiekantore is summier toegemaak nadat kragtoevoer na die geboue afgeskakel is.

’n Bron in die munisipaliteit sê dat die provinsiale departement van veiligheid onlangs lisensiedienste by eMakhazeni Munisipaliteit, waaronder al drie dorpe val, oorgeneem het.
Die provinsie het egter tot dusver versuim om die huur van die geboue te betaal.
Weens die agterstand is die kragtoevoer na die geboue afgeskakel.
Sodra betalings ontvang word, sal die krag weer aangesit word, sê die bron.
Belfast se lisensiedienste is al twee weke toe, terwyl Machadodorp en Dullstroom die week toegemaak is.
Die provinsie het tot dusver nie op navrae gereageer nie.
Provinsiale departemente is berug vir die feit dat hulle nie hul skuld aan munisipaliteite delg nie.
In Middelburg skuld sommige staatsdepartemente die munisipaliteit al meer as 150 dae lank geld.
Dit word gereeld in die raadsaal deur die DA se San-Mari Wait geopper, met die teenargument dat die skuld gewaarborg is.
Dit word ook by munisipale begroting ingereken.
Inwoners van die dorpe moet nou Middelburg toe vir dienste, waar inwoners self nie geholpe is nie.
Klagtes oor slegte dienslewering by die Middelburg lisensiekantore is legio.
