Skopboksers sterf in gru-ongeluk
Twee skopboksers wat ook in Tae Kwando spesialiseer, wat in dié week se sportblaaie van die Middelburg Observer verskyn, was die slagoffers van vanoggend se grubotsing op die Stoffbergpad.
Pieter Geldenhuys en Tertius Hensley, is beide opslag dood, nadat hulle voertuig van die kant af deur ’n nutswa getref is. Beide was verbonde aan die Warrior Skopboksklub van Roossenekal.
Die klub behoort aan pastoor George van Diggelen van Kriel wat sewe takke in Mpumalanga, Limpopo en Gauteng het.
Mnr. Geldenhuys, ’n Tae Kwando spesialis, was die hoofinstrukteur van die Roossenekal klub. Mnr. Hensley was sy hulpafrigter.
Mnr. Geldenhuys se bedroefde vrou, Doritha, het die sterftes aan www.mobserver.co.za bevestig. Sy was ook op die toneel.
Beide mans het onlangs verskyn in die Middelburg Observer vir hulle prestasies in ’n skopboks toernooi.
Die vriende is omstreeks 07:00 vanmore oorlede in die ongeluk op die Stoffbergpad waar die polisie se Honde-eenheid geleë is.
Pastoor Van Diggelen het sy simpatie teenoor die mans se families betuig en gesê dat beide mans staatmakers was. Hy het genoem dat mnr. Hensley vanuit Pretoria na Roossenekal getrek het “om sy voete te vind”.
Pastoor Van Diggelen sê dat “mnr. Hensley die Here gevind en dat hy oortuig is dat beide mans nou aan die voete van die Hemelse Vader sit.”
“Hulle was van ons toppresteerders, dis ’n geweldige verlies”.
•Sensei Geldenhuys was een van die aangenaamste mense en ’n joernalis se droom.
Hy het die klub se berigte gereeld vir Sjani Campher gestuur en was so dankbaar wanneer dit gepubliseer word, dat hy ’n skenking aan die Middelburg Observer wou maak of vir die redaksie sjokolade wou koop.
Wanneer daar aan hom verduidelik is dat ons ’n diens lewer en dit met graagte publiseer, was hy ongelooflik dankbaar.
