Man neem eie lewe nadat hy weduwees en talle ander inloop
Twee weke nadat Nick Nortjé homself gehang het in ’n woonstel in Maroelastraat (Kanonkop, Middelburg) is daar steeds mense wat na hom soek omdat hy hulle ingeloop het.
“Ek het nie geweet hy is dood nie! Dit is hoekom sy foon af is! Maar hy sal voor God moet staan,” het mnr. William Liebenberg (van Kriel) gesê.
Hy het op 3 Maart nog met Nick gepraat “en van daar af was sy foon stil.”
William was een van talle ‘slagoffers’ uit Kriel wat hierdie week gesê het hoe Nick hulle uit duisende rande bedrieg het en nooit bouplanne vir hulle gegee het of die hersonering gereël het nie. Hulle weet egter ook van mense van Bethal, Hendrina en Middelburg wat vir “Nick se slimpraatjies” geval en hul geld kwyt is.
“Ek sukkel al meer as twee jaar met hom. Hy het altyd storietjies gehad. Hy het R15 000 uit my uit. Maar ja, die man is nou dood. Ek het hom klaar vrygespreek en vergewe,” sê mnr. Liebenberg.
Www.mobserver.co.za het met verskeie slagoffers gepraat. “Een van ons het die lykshuis gebel om seker te maak hy is oorlede, want daar was so baie liegstories.”
•Debbie Melville was ook geskok toe sy hoor dat Nortjé oorlede is.
“Nick het amper ’n egskeiding tussen my en my man veroorsaak, omdat alles so gesloer het met sy stories en ek in Kriel moes agterbly en my man na Bela Bela toe is.”
Sy het Nick R30 000 betaal om vir hulle bouplanne te reël vir die nuwe splumareëls en ook hersonering te laat doen.
“Nick het baie trauma veroorsaak. Hy het oor álles gejok. Ons moes weer iemand anders betaal om dit oor te doen.”
Me. Melville het destyds self ’n ondersoek gedoen en gesien dat Nortjé nie ’n lisensienommer het nie.
Sy is na ’n prokureur toe oor Nortjé se skelmstreke en is aangeraai om hom kleinsakehof toe te vat, maar dit sou nie eers ’n fraks van hul gelde kon terugkry nie.
“Nick kan nou niemand meer seermaak nie. Hy moet aan die Here antwoord. Wat hy gedoen het, het hy aan homself gedoen. Ek voel net jammer vir al die mense, veral die ouer en jonger mense, wat niks het om op terug te val nadat hulle deur Nick ingeloop is nie.”
•Colleen Gouws (van eMalahleni) het Nortjé in Middelburg opgespoor, nadat hy verlede jaar al belowe het om ’n voorafbetaalde meter in te sit.
“Hy was drie keer by my. Die eerste keer om die geld te kom haal. Die tweede keer om die meter daar af te laai en die derde keer om te kom sê die munisipaliteit neuk hom rond.”
Nortjé het van hulle ’n deposito van R3 100 gevra, maar hulle het die hele bedrag van R3 800 betaal, omdat hulle hom op vertrou het.
Daarna het die verskonings begin. Van ’n wiel wat uitgeval het tot erge reën.
Hulle het later uitgevind dat ’n klomp mense ingeloop is en hy het hulle met ’n prokureur gedreig.
“Die kamtige prokureur het vir my dreigemente gestuur en toe hy eenkeer ’n eenvoudige regswoord verkeerd spel, het ek besef die prokureur bestaan nie.”
Haar man is die dag voor Nortjé se dood na sy woonstel, maar die inwoners van die huis het gesê hulle sien hom al vir ’n dag of twee nie. Daar is aan die deure geklop, maar daar was geen antwoord nie.
Die volgende dag het hulle gehoor dat hy homself in die badkamer opgehang het.
Me. Gouws sê sy kry Nortjé se eksvriendin en kind jammer.
“Ek dink hy het gesien hy gaan nie hier uitkom nie en dis hoekom hy dit gedoen het.”
•Jeanette Schutte het R7 600 aan Nortjé in Februarie 2020 oorbetaal vir bouplanne en nooit die planne gesien nie.
•Elsie Adams het in 2020 al ’n huis gekoop en met die probleme wat die verkopers gehad het met Nortjé se beloftes is die huis nou nog nie op hul naam geregistreer nie.
“Ons betaal al twee jaar okkupasiehuur en alles is Nick se skuld dat niks gefinaliseer kan word nie! Toe ons hom aanvat, het hy my per e-pos gedreig!”
Sy het baie gemengde gevoelens omdat hy dood is.
“Hy gaan sy oë oopmaak in die hel! Die verkopers het duisende rande aan hom betaal!”
•Meisie Janse van Rensburg het R7 800 vir Nortjé betaal vir bouplanne.
“Ek het intussen R8 000 betaal vir iemand anders om bouplanne te teken en dit is ook afgekeur?”
Sy sê hy het die dag voor sy dood gesê hy gaan daardie dag 09:30 in Middelburg ry om haar te kom sien.
“Hy het gesê my goed is afgehandel.”
Soos sy ander slagoffers, wonder sy wat hy met al die geld wat hy by almal gevat het, gedoen het.
“Ek vermoed hy het dit aangewend vir sy mediese uitgawes vir die gewas in sy gesig. Ek dink ook hy het gesien hy is te diep in die moeilikheid en het toe selfmoord gepleeg. Ek hoop net almal kry berusting.”
•Marlise Visagie sê sy het gehoor dat daar slagoffers was van Nortjé se streke in Hendrina, Bethal, Kriel en Middelburg.
“Toe hy met my gewerk het, het hy altyd gesê hy kom van dié dorpe af.”
Sy het twee en ’n half jaar met bouplanne gesukkel.
“Ek is vrou alleen en hy het R20 000 uit my uit. Ek het nie daardie geld om dit te vervang nie. Ek het so in hom geglo, geglo dat hy die regte ding sal doen. Hy het beloof hy sal alles doen. Ek het nog kort voor sy dood met hom gepraat. Ek het gehoor van ou mense wat gehuil het, omdat Nortjé hulle geld gevat het.”
“Hy was ’n goeie ou, sy prioriteite was net nie reg nie. Hierdie berig gaan nie iets aan ons geld verander nie, maar dalk wel ons vertroue in ons medemens.”
•Elise van Heerden sê sy het ’n hele leêr saamgestel in die tyd wat sy met Nortjé probeer sake doen het en sy belfotes op niks uitgeloop het nie. Sy het R7 600 vir
Nortjé betaal, maar moes later nog R9 000 vir iemand anders opdok om alles oor te doen.
“Ek sal nou maar die leêr moet weggooi. Ons kan niks daaraan doen nie. Hy is dood.”
Sy onthou dat Nortjé die eerste keer by haar dokumentasie kom aflewer het in ’n rolstoel.
Nadat dinge suur geword, het sy hom kleinsakehof toe gevat.
“Hy het al in Maart 2021 die bevel gekry, maar hy het hom nie daaraan gesteur nie.”
Sy is ’n weduwee en gaan haar huis verkoop en in ’n aftree-oord bly.
Wat haar destyds baie kwaad gemaak het, is dat “Nortjé hom voorgedoen het as ’n Christen. Christenmense doen nie sulke dinge nie.”
•Me. Veronica Edwards wat baie van die mense probeer help het in hul klagtes teen Nortjé sê hy het selfs tydens ’n oproep met een van sy slagoffers gesê “dat hy nie bene het nie.”
“Toe ons hom ontmoet, is daar vir hom gevra hoe het hy dan nou skielik bene en of die Here dan nou wonderbaarlik vir hom weer bene gegee het.”
Nortjé kon nie daarop ’n antwoord verskaf nie.
•Nortjé se eksvriendin (wat naamloos wil bly om hul kind te beskerm) het gesê “daar was so baie leuens, dat ek nie meer weet wat is waar en wat nie.”
Alhoewel hulle al ’n paar maande nie meer saam was nie, het hulle die Maandag voor sy dood nog saam beplan na watter kleuterskool hul kind moet gaan.
“Hy het altyd die kliënte gaan sien en die onderhandelings gedoen toe ons nog saam was. Ek het nie geweet van die klagtes oor die geld nie.”
Ten opsigte van dreigemente dat mense sê hulle gaan eise instel teen sy boedel, het sy gesê “dat Nick niks agtergelaat het eers vir sy kind nie. Ek moes geld leen om hom te begrawe.”
