Raadslid raadop – inwoners al week sonder water
DA Raadslid Jos Pretorius het uit frustrasie hom na die burgermeester gewend vir dadelike intreeding met die huidige water krisis wat tans deur Clubville ervaar word.
Inwoners van die area is vir die hoeveelste keer sonder water gelaat weens pypbarste, party is al vir so lank as agt dae sonder water.
Rdl. Pretorius vertel dat die wykskomitee gister vergader het en dat ’n vergadering met die burgermeester, uitvoerende munisipale bestuurder en die raad aangevra is om die aanhoudende probleme aan te spreek.
Dit nadat hy gedurig spook om eenvoudige terugvoer te ontvang van die uitvoerende direkteur van water en sanitasie.
Mnr Pretorius vertel dat Clubville tans nog op die ou asbespypnetwerk gekoppel is, maar dat daar Sondag aangekondig is dat hulle die area gaan oorskakel na die nuwe pyplyn. Of konstruksie al aan die rol gesit is kan hy nie bevestig nie.
Verder het hy uitgewys dat ’n gereelde pypbars op die hoek van Eeufees- en Hospitaalstraat ’n groot deel van Clubville affekteer. Laer af in Hospitaalstraat, nader aan die provinsiale hospitaal word ook knaende pypbarste ervaar.
“Die amptenare gaan sover as om te lieg, of ’n storie dood te praat as mens die onderbrekings by hulle aanmeld. Die ou hospitaal het op ’n tyd self sonder water gesit weens pypbarste. Nadat ek dit aangemeld het, was daar vir my gesê Hospitaalstraat het water. Ek moes toe uitwys dat dit onwaar is.”
Mnr Pretorius het bygevoeg dat hulle gaan aandring op antwoorde agter die redes vir die verskeie pypbarste en hoekom herstellings so lank duur.
“Inwoners is dikwels onder die indruk dat ek as raadslid self betrokke is by herstellings. Dis die munisipale amptenare se werk om sulke herstellings te doen. Ek kan probleme aanmeld en terugvoer wat die amptenare verskaf oordra aan die publiek, maar ek kan nie self ’n pyp herstel nie,” het mnr Pretorius verduidelik.
“Elke keer as mens ’n water of kragonderbreking aanmeld, dan is al terugvoer van die amptenare ‘noted‘. In die 30 jaar wat ek as raadslid in Middelburg dien, het die dorp nog nooit so sleg gelyk nie!”
•Die vergadering met die raad is aangevra, en die wykskomitee wag nog op die burgemeester om ’n datum vas te stel.
