News

Miljoene skade aan nuwe kragnetwerk

Miljoene rande se skade is tussen 8 en 13 Maart in KwazaMokuhle se nuwe Uitbreiding 9 aangerig deur kabeldiewe, wat die nuut geïnstalleerde Eskom kragnetwerk teiken.

Pale en elektriese kabels is in November laasjaar deur Eskom aan die munisipaliteit oorhandig.

Die netwerk is veronderstel om dienste aan die armes te verskaf met die ontwikkeling van Uitbreiding 9. Skade wat tot dusver aangerig is word op minstens R4 miljoen geskat.

Met voortslepende diefstalle en vernietiging van infrastruktuur, het Eskom nuwe benaderings tot kragvoorsiening wat op minder koperafhanklikheid fokus.

Die nuwe netwerk is laat verlede jaar geïnstalleer en maak gebruik van aluminium geleiers met net ’n minimale fraksie koper as wat voorheen in kabels gebruik is.

“Ten spyte van die feit dat die kabels byna onbruikbaar en waardeloos is, is tientalle nuwe pale afgesaag en kabels op die plek gebrand,” sê VF+ raadslid van Hendrina, Corrie Wolmarans. Hy sê dat daar tans koperinsetsels dunner as koperdraad in die kabels is vir geleiding.

“Die kool is beslis nie die sous werd met die hoeveelheid koper wat nog in die kabels is nie,” meen mnr. Wolmarans wat bylas dat “ons amper die diewe die Sondag op heterdaad betrap het”.

Volgens mnr. Wolmarans is hulle Sondag, 13 Maart, deur ’n sekuriteitswag geskakel met die nuus dat die kabeldiewe weer stroop. Die wag is deur ’n privaat maatskappy aangestel om ’n substasie op te pas.

“Die polisie het ons omstreeks 21:00 vergesel, maar ongelukkig het die kabeldiewe toe reeds spore gemaak,” sê mnr. Wolmarans.

Videomateriaal van die verwoesting is aan die Middelburg Observer verskaf en wys duidelik hoe die kabels gestroop is.

Me. Prudence Magutle van die munisipaliteit het bevestig dat die dienste in November aan die munisipaliteit oorhandig is maar hulle was onbewus van die vandalisme.

Sy sê die munisipaliteit voer ’n opdraende stryd met kabeldiefstalle wat die hele land lamlê. Howe het die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur ook nou as prioriteitsmisdaad geklassifiseer met swaarder minimum vonnisse vir oortreders.

• Vir die videos van die skade gaan besoek gerus https://www.youtube.com/shorts/D94jLNDksWg

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button