News

Wie smokkel met giftige slange in Middelburg?

Twee giftige slange, wat nie in Middelburg voorkom nie, is binne twee weke in Aerorand gevang en boonop is daar ’n tekort aan anti-serum in die land!

Eers is ’n takslang in ’n bos gevang en vanmiddag is ’n boomslang in ’n erf gevang.

Die vermoede bestaan dat die slange óf onwettig aangehou word óf dat daar met die slange smokkel gedryf word.

Bernard van der Berg (voorsitter, Middelburg Dierebeskermingsvereniging) het vanmiddag die slang in Gotwanistraat gevang.

Bouers het die slang by ’n erf sien inseil en hom met kookwater gegooi. Die slang het brandwonde opgedoen, maar hy het dit oorleef.

“Dit is die tweede giftige slang wat nie in ons dorp voorkom nie, wat in ’n kort tyd in dieselfde area gevang word. Ek is oortuig daarvan daar is iemand wat onwettig giftige slange aanhou,” het Bernard omgekrap gesê.

Victor Boshoff (voorsitter, LimPuma en Middelburg Herpetologiese Vereniging) stem met hom saam.

“Dit is darem net té toevallig dat slange wat nie hier voorkom nie, sommer net so in dieselfde area gevang word. Dink wat kon gebeur het as die slang ’n kind gepik het! Daar is boonop ’n tekort aan anti-serum! Lees berig hier.

Twee weke gelede is ’n takslang net sowat ’n blok vanwaar die boomslang gevang is, gevang. Lees berig hier.

Victor sê die moontlikheid bestaan ook dat ’n persoon met die slange kan smokkel. Indien dit wel so is, kan die persoon, sou hy gevang word, tronkstraf opgelê word.

“My hare het gerys toe ek hoor ’n boomslang is ook in Aerorand gevang. Beide slange het uitgekom en dit is ’n baie ernstige probleem vir ons dorp. As enige persoon weet dat sy buurman onwettig slange aanhou, moet hulle ons dadelik kontak. Wat dink jy sal gebeur as daardie slang uitkom en hy pik jou of jou kind?”

Enige persoon wat inligting kan verskaf oor waar die slange vandaan kom, kan Bernard by 082 769 0227 of Victor by 082 697 9954 bel.

  • Interessant om te meld dat beide slange se gif hemotoksies is, wat beteken dat die pasiët hom kan doodbloei (bloedstolling word aangetas) as hy gepik word. Met die takslang moet jy bloedoortappings kry, aangesien daar géén anti-serum vir die slang is nie. Vir die boomslang is daar wel anti-serum, maar die ant-serum tekorte kan dalk probleme veroorsaak.
  • Victor meld dat hy gister vyf slange, waarvan drie pofadders, gevang het. Mense word gewaarsku om versigtig te wees, aangesien slange nou jag voor hul winterslaap. “’n Hond is ook gister deur ’n pofadder gepik en ons het nie anti-serum vir hom beskikbaar gehad nie.”
  • Die pofadder pik vinniger as wat jy jou oog kan knip. Gif is uiters sitotoksies en dit voel asof jy jou ledemaat in kookolie druk wanneer dié slang jou pik. Weefselskade tree dadelik in en moet ‘n pasiënt binne ‘n uur behandeling kry. In ernstige gevalle kan ’n pasiënt selfs ’n ledemaat verloor.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button