Daar is drie seekoeie in die Klein Olifantsrivier agter koerant geboue
Drie seekoeie, ’n bul, koei en kalfie, is gistermiddag om 18:03 in die Klein Olifantsrivier agter die Middelburg Observer se geboue afgeneem.
Anton Botha sê hy was besig om sy hengeltoerusting aanmekaar te sit, toe die reuse seekoeibul langs hom opkom.
“Ek het my morsdood geskrik, want ek het dit nie verwag nie!”
Sekondes later het die groot seekoei afbeweeg in die water na die Kees Taljaard stadion se kant toe, maar die koei en kalfie het in die diep water hul koppe voor hom uitgesteek. In hierdie tyd het hy ’n video van hulle geneem.
Oor die naweek het ’n ander inwoner hom na die brandweer gewend toe hy die een seekoei nader aan die laagwaterbruggie in Asaliastraat sien opkom het. Hulle het hom na die Dierebeskermingsvereniging verwys, wat vanoggend die rivier gefynkam het om te sien waar die seekoeie in en uitkom.
• Tshepo en Edward Mokswena sê hulle bly al vier maande langs die Klein Olifantsrivier en het ten minste twee seekoeie die afgelope drie dae gesien.
• Andries Pretorius bly ook langs die Klein Olifants in ’n tent en sê hy het gisteraand duidelik die seekoeigeluide langs sy tent gehoor. Hy was te bang om uit te gaan.
• Enige persoon wat die seekoeie afgeneem het of weet waar hulle is, kan Daleen Naude bel by 013 243 1434.
Kyk gerus na die videomateriaal wat deur Anton Botha geneem is deur die volgende skakel te besoek: https://youtube.com/shorts/RzeRcgR5Jlc?feature=share
