Man wat selfone steel, steeds op vrye voet
Videommateriaal wat uit ’n voertuig geneem is, wys duidelik hoe ’n selfoondief by ’n kleuterskool toeslaan en ’n selfoon uit ’n kar steel.
Dié booswig wat by Kleuterskool Voetspoortjie in Aeorrand selfone gesteel, ’n man byna onderstebo gery, ’n ouer se kar beskadig en toe ’n hek in sy peetjie gery het, is steeds op vrye voet.
Boonop was sy voertuig só erg beskadig, dat hy dit later by die padkamp gelos en in ’n taxi gespring het om weg te kom.

Die voorval het op 10 Maart plaasgevind en ’n mens sou kon dink dat dit ’n ‘maklike’ saak vir die polisie sou wees, aangesien hy dan sy voertuig daar gelos het!
Maar moenie glo nie. Me. Marlise McDonald (bestuurder van die skool) sê hulle het “nog absoluut niks” van die polisie gehoor nie.
Lees ook: Selfoondief jaag byne in man vas – jaagtog tot by padkamp
“Toe ons navraag doen by die polisie, het hulle vir ons gesê die voertuig is geskut. Die voertuig is ook nog op die vorige eienaar se naam en nog nie oorgedra op sy naam nie.”
Wat vir haar vreemd is, is hoe op dees aarde die polisie dan nie kan weet wie die nuwe eienaar van die kar is nie. Die verkoper kon vir hulle gesê het.
•’n Paar mans het die betrokke dag in hul karre weggekruip om die selfoondiewe self te probeer vastrek.
Op videomateriaal kon hulle sien dat twee mans, met ’n kleuter by hulle, vir drie dae na mekaar selfone uit van die ouers se karre gesteel het. Die diewe het afstandbeheerders gebruik, sodat die voertuig nie moet sluit nie.
Hulle vermoed die kind wat saamgebring is, was deel van hul plan sodat ouers net moes dink dit is ’n ouer wat ’n kleuter skool toe bring.
Daardie oggend het net een van die diewe opgedaag en weer sy afstandbeheer gebruik. Die mans het hom probeer konfronteer, nadat hy die selfoon gesteel het, maar hy het in sy kar gespring, een van die mans probeer platry, in ’n ouer se kar vasgery en daarna die hek beskadig om weg te kom.
Hulle het hom agterna gesit, maar hy het sy erg beskadigde voertuig op ’n sypaadjie gelos en in ’n taxi gevlug.
