Die bul en koei is net na 21:00 gesien, waar hulle in die rigting van die Mhluzi woongebied gestap het. Die kalf was nêrens nie en het waarskynlik in die watergat agter gebly, waar die drie sedert eergister skuil.
Die plek waar hulle in die water baljaar, is omtrent in die middel van die dorp en waar die Springbok kaptein, Wynand Claassen, en sy maats gereeld geswem het. Hy het vanoggend vertel dat hulle ’n tou aan wilgerbome vasgemaak en dan tot in die Klein Olifantsrivier geswaai het.
Lede van die gemeenskapspolisieforum het die seekoeie die laaste keer naby die Sasol garage, by die Mhluzi ingang, gesien.
Nadat hulle eers in ’n westelike rigting gestap het, het hulle skielik weer van rigting verander en is die laaste keer gesien, toe hulle bosse in verdwyn het. Dit het gelyk asof hulle weer terug stap na die watergat.
’n Joernalis van www.mobserver.co.za was ook op ’n veilige afstand op die spoor van die seekoeie, maar het seker gemaak dat hulle nie gesteur word nie. Dit was onmoontlik om naby genoeg te kom om in die donker nag ’n foto van die twee te neem.
Die seekoeie is sedertdien nog nie weer gesien nie.
Die drie seekoeie herinner aan Huberta die seekoei met “wanderlust”.
In November 1928 het ’n seekoeikoei die Tugelarivier verlaat. Sy is die eerste keer opgemerk toe sy deur die suikerrietvelde naby Tongaat geloop het.
Sy het oor ’n tydperk van drie jaar van die Tugelarivier tot by die Keiskammarivier gestap. Partykeer het sy in dorpies en stede ingestap.
Toe sy Durban verlaat is sy as “kroonwild” verklaar wat beteken het sy mag nie gejag word nie.
Haar tog deur Natal tot by die Wildekus het internasionale belangstelling gewek. Reisagentskappe het selfs bustoere gereël om besoekers na die plek te neem waar sy was. In haar drie jaar van rondwandel het Huberta Tongaat, Pinetown, Durban, Port St. Johns en Oos-Londen besoek – ’n afstand van 1 600 kilometer!
In 1931, na drie jaar se rondwandel, is Huberta deur twee boere doodgeskiet, nadat hulle haar spoor op hul plaas gevind het. Hulle is beboet.
Vandag staan Huberta opgestop in die Amathole Museum in King William’s Town.
•Nou hoop Middelburgers dat die dorp se drie naamlose seekoeie nie dieselfde lot as Huberta oorkom nie.
•Lesers word gevra om die drie name te gee en dit te stuur aan sjani@mobserver.co.za.
•Indien die seekoeie gesien word, moet hulle Bernard van der Berg WhatsApp met ’n aanduiding van die plek by 082 769 0227.
