Seekoeie uit lug gesoek
’n Hommeltuig sal vandag ingespan word om uit die lug uit te kyk, waar die drie seekoeie, wat Maandag in Middelburg gesien is, hulself bevind.
Mnr. Bernard van der Berg (voorsitter, Middelburg Dierebeskermingsvereniging komitee) sê hulle het gisteraand ook byna deurnag na die seekoeibul, -koei en kalf gesoek, maar kon hulle nie kry nie.
Hulle is tans besig om ’n hommeltuig gereed te kry, om te kyk of die seekoeie nog in die omgewing is.
Die seekoeie is vanaf Saterdagaand af elke aand op ’n ander plek langs die Klein Olifantsrivier gesien.
Van die inwoners van John Magagulastraat langs die Klein Olifants, sê hulle kon oor die naweek duidelik die seekoeigeluide hoor.
Die seekoeie het Maandagaand laat in Merriespruit afbeweeg (langs Koppiestraat) waar hulle later by die koppie langs die Sasol Vulstasie gesien is waar hulle wei.
Mnr. Van der Berg sê die Mpumalanga Toerisme en Parke Agentskap (parkeraad) monitor die seekoeie se bewegings.
Hy het gemeld dat die MTPA die afgelope paar weke verskeie kere oproepe gehad het van boere op die Loskopdampad wat gesê het dat hulle seekoeie in die rivier gesien het. As hulle dit egter ondersoek het, was die seekoeie weer skoonveld.
Die vermoede bestaan dat hulle vanaf Loskopdam se rigting kom. As gekyk word na die roete wat hulle vanaf Sondag tot Maandagaand geloop het, lyk dit of hulle weer op pad is terug Loskop toe.
• Die hoop is dat die seekoeie self hul pad terug sal vind, aangesien dit baie gevaarlik is om seekoeie te verdoof en later te vervoer.
Die groot gevaar is die verdowingsproses. Die dier moet buite die water wees voor hy verdoof kan word. Gaan hy terug in die water in, nadat hy geskiet is met die verdowingsmiddel, kan hy verdrink.
• Mnr. Van der Berg vra enige persoon wat die seekoeie opmerk, om dadelik vir hom per WhatsApp ’n aanduiding te gee waar hulle is (pin location) of om hom te bel by 082 769 0227.
