News

Man wat wapen op motorfietsryer rig, steeds op vrye voet

Die man wat op 5 Maart ’n 9mm pistool gespan en dit gehou het teen die bors van ’n motorfietsryer, is steeds nie aangekeer nie.

Boonop het die polisie tot op hede twee van die ooggetuies se verklarings nog nie afgeneem nie!

Mnr. Heinrich van Aswegen sê die polisie het wel sy verklaring gevat, asook ’n verklaring geneem oor die gebeure by die polisiestasie toe ’n polisielid geweier het om ’n saak te open na die voorval.

Hy sê dat die polisie nog nie sy vrou, Michelle, wat saam met hom die dag op sy motorfiets was, se verklaring geneem het nie.

Lees ook: Eienaar van swart BMW gesoek, “Ek het gewag om in straat doodgeskiet te word”

Die ooggetuie wat baie naby by die verkeerslig gestaan het en ook saam met sy hele gesin alles sien gebeur het, sê die polisie het hom ook nog nie gekontak vir ’n verklaring nie.

“Daardie man wat die wapen gerig het op Heinrich, moenie in besit wees van ’n wapen nie. Hy kon terwyl hy daardie wapen so rondgeswaai het, een van my kinders in my kar doodgeskiet het!”

•Die Van Aswegen egpaar het die betrokke laatmiddag in Lilian Ngoyistraat (Kanonkop) met hul motorfiets afgery. By die spoedwal reg oorkant die Kees Taljaard Stadion, het ’n swart BMW op die motorfiets afgejaag en het mnr. Van Aswegen gevrees dat hy hulle van die motorfiets gaan afry.

Hy het vinniger gery en by die dubbelbaan voor die brug regs gehou. Die BMW het egter langs hom inbeweeg en hom voor aankomende verkeer ingedruk.

Lees ook: Ooggetuie sien hoe swart BMW ’n motorfiets van pad probeer dwing en man wapen uitpluk

Mnr. Van Aswegen het terugbeweeg in sy baan in en by die verkeerslig gestop en van die motorfiets afgeklim.
Hy het vroeër al gesien dat die bestuurder van die BMW ’n vrou en klein kindjie by hom het.

Hy wou vir die man vra hoekom hy so onverantwoordelik ry met ’n kind by hom in die kar.

Die BMW het ’n ent agter hom gestop naby die brandweergeboue, waarop ’n man uitgespring het met ’n 9mm pistool.
Hy het die wapen gespan, teen mnr. Van Aswegen se bors gedruk en op hom begin skree.

Volgens mnr. Van Aswegen was die man so aggressief dat hy gewag het vir die skoot om te klap.

Lees ook: Ons spoor man met wapen op

In die daaropvolgende gebeure het me. Van Aswegen haar selfoon uitgepluk en ’n video geneem waar ’n mens die man met die wapen in sy hand kan sien. Haar opname was net te laat om die gebeure af te neem waar die wapen op haar man se bors gerig word.

Mnr. Clarke, wat agter die BMW gery het en alles sien gebeur het, het by die verkeerslig gestop en ook die rig van die vuurwapen episode gade geslaan.

Die oomblik toe die bestuurder van die BMW se vrou sien dat me. Van Aswegen ’n video neem, het sy uitgespring en haar man weggesleep van mnr. Van Aswegen af. Daarna het hy in die BMW gespring en weggejaag.

Mnr. Clarke het hom gevra of alles reg is, maar mnr. Van Aswegen was so geskok, dat hy nooit sy besonderhede gevat het nie. Hy wou net by die polisiestasie uitkom.

Lees ook: Motorfietsryer se verklaring geneem oor man wat hom met 9mm dreig

By die polisiestasie wou die lid by die aanklagkantoor nie ’n saak open nie.

• Later, nadat www.mobserver.co.za oor die gebeure geskryf het, het mnr. Clarke sy besonderhede aan die joernalis verskaf en is dit vir mnr. Van Aswegen gegee.

Mnr. Van Aswegen het dit op sy beurt vir die polisie gegee.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button