News

Vrou glo man wou kind gryp en ontvoer

’n Vrou het Woensdag omstreeks 12:00 uit die Middelburg Mall gehardloop toe sy vermoed het dat ’n man, wat sy in meer as een winkel naby hulle gesien het, haar kind wou ontvoer.

Die Mall se sekuriteitspersoneel sê hulle het die hele nag alle videomateriaal nagegaan en is van mening dat die man beslis nie agter die kind aan was nie.

“Ons het aanvanklik gedink dat daar twee mans is wat saamgewerk het om iets te steel, maar nadat ons nagskof die videomateriaal gekyk het, wys alles daarop dat die twee nie ’n verbintenis het nie. Mense wat kinders steel of ontvoer, doen dit ook nie op so ’n manier nie,” het mnr. Neels Snyman (operasionele bestuurder, Middelburg Mall) gesê.

Die vrou se vertelling van die gebeure is wyd op sosiale media gedeel en sy het op voorwaarde dat sy anoniem bly, vertel waarom sy gedink het dat die man haar kind wou steel.

“Dit was beslis nie my verbeelding nie! Ek glo hy was deel van ’n kinderhandel- of ontvoeringsgroep! ’n Mens glo hierdie dinge gebeur net op ander plekke, maar ek moet die mense waarsku!”

Sy het haar dogtertjie in die kruidenierstrollie gestoot en ingegaan by ’n paar klerewinkels. In een van die winkels het sy ’n man baie naby aan hulle opgemerk. Sy het aanvanlik nie veel notisie van hom geneem nie en weg gestap na ’n ander rak.

Hierna het sy nog twee of drie keer weggestap, maar elke keer het hy hulle gevolg. Sy het gesien dat hy ’n selfoon teen sy maag hou wat in hul rigting wys, “asof hy foto’s en video’s van ons neem.”

Sy het baie ongemaklik gevoel en is dadelik by die klerewinkel uit en het vinnig gestap na ’n ander klerewinkel. Die vrou sê sy was net ’n klein rukkie in dié winkel toe sy weer die man met die swart denimbroek, donkerbrille en swart leerbaadjie naby hulle sien rondstaan.

Sy het haar morsdood geskrik toe hy skielik baie naby aan hulle verby die trollie loop en reg voor haar dogtertjie voor die trollie gaan staan. “Net daar het ek besef wat gebeur!”

Die vrou sê sy was oortuig daarvan dat die man haar kind wou gryp. “Ek het nie daaraan gedink om te skree of om na sekuriteit te gaan soek nie. Ek wou net my kind so vinnig as moontlik daar uit en veilig kry.”

Buite het sy deur die voertuie gevleg tot by haar voertuig, waar sy haar en haar kind toegesluit en sy vinnig weg gery het.

Sy het haar man gebel en later ook die Middelburg Malls se sekuriteit van die voorval in kennis gestel. Hulle was behulpsaam en het vir haar op videomateriaal gewys dat dit lyk of die man met die swart klere in kontak was met ’n man met ’n grys hemp tyd. “Asof hulle saamgewerk het.”

Dit het ook gelyk of hy agter haar aangestap het, nadat sy by die winkel uitgevlug het na buite.

• Mnr. Snyman sê dit was blote toeval, dat die ander man ook uitgestap het, want nie een van die twee het daarna weer iewers ontmoet nie. Die een het uitgestap en in ’n taxi geklim. Die persoon wat die vrou gedink het agtervolg haar, het ook rustig in ’n voertuig geklim en weg gery.

Wat hy wel agtergekom het op die videomateriaal en ook later toe die vrou by hulle kantoor was, is dat haar handsak nie toegerits was nie.

• Mnr. Mike Tammadge (bestuurder, Middelburg Mall) stem saam met mnr. Snyman dat hy glo dat die vrou en kind op geen stadium in gevaar was nie.

Back to top button